Reserwebank bly baie versigtig te midde van onsekerhede

“Hoewel die meeste ontleders glo dat die rentekoerse in Suid-Afrika nou hulle hoogtepunt bereik het – indien daar nie groot skokke op ons wag nie – beskou die Monetêrebeleidskomitee (MBK) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank om verstaanbare redes steeds die inflasierisiko’s as hoog.”

In sy kommentaar op die besluit van die MBK op 27 Maart om rentekoerse weer eens onveranderd te laat, sê prof Raymond Parsons, ekonoom by die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool, dat dit algemeen te wagte was dat rentekoerse onveranderd gelaat sou word.

“Die SARB bly baie versigtig te midde van die gekombineerde onsekerhede wat ervaar word en wat deur faktore soos ‘taai’ inflasie, die ongestadigdheid van die rand, die Verenigde State se rentekoerse, en Suid-Afrika se naderende verkiesing op 29 Mei veroorsaak word.”

Volgens prof Parsons sal die monetêre beleid dus nie op hierdie stadium geherkalibreer hoef te word nie, en daarom is daar besluit om die koerse ’n rukkie langer hoog te hou.

Hy sê dat die voortgesette vooruitsig van onveranderde leenkoste nietemin ’n stabiliserende faktor in verbruikers- en sakevertroue is, saam met die vooruitsig van laer inflasie later in die jaar wat nou deur verskeie ontleders voorspel word.

“Vir die MBK is die tydsberekening van enige verslapping in rentekoerse direk aan toekomstige inflasietendense en ’n verdere verlaging in inflasionêre verwagtings gekoppel.  Die MBK se boodskap is dat dit nie die rentekoers sal begin verlaag totdat inflasie waarneembaar laer is nie, en is gesetel in die middelpunt (4,5%) van die SARB se inflasieteikenband van 3% tot 6%.”

Prof Parsons sê die SARB wil die versekering hê dat die uitkomste volhoubaar is. “Dit blyk dus nou onwaarskynlik te wees dat die SARB voor die tweede helfte van 2024 sal begin om rentekoerse te verlaag.  Daar kan verwag word dat sleutelinflasie, oor die algemeen, dan meer gunstig sal wees, en veral dat die uitslag van die verkiesing ook bekend sal wees.”

Hy verduidelik dat selfs indien rentekoerse in die laaste helfte van 2024 begin daal, die aanvanklike daling waarskynlik nie meer as 25 basispunte sal wees nie.

“Die MBK het sy groeivooruitsig van 1,2% herbevestig, en beskou steeds die risiko’s vir die groeivooruitsig as ‘gebalanseerd’. Hoëfrekwensie- ekonomiese data vir vroeg in 2024 was egter swak, en die SARB se eie saamgestelde leidende besigheidsiklusaanwyser het in Januarie 2024 met 0,5% afgeneem. Met die monetêre beleid wat nou langer in ’n beperkende terrein bly, kan hierdie groeivoorspellings dalk ’n bietjie optimisties wees, tensy ander ekonomiese hervormings vinniger geïmplementeer word,” het hy afgesluit.

Submitted on Thu, 03/28/2024 - 10:46