René glo dat wonderwerke steeds plaasvind

Om moed op te gee, was nooit ’n opsie vir die 23-jarige René Engelbrecht, wat onlangs haar BEd Grondslagfase-graad aan die Noordwes-Universiteit (NWU) behaal het, nie. Sy het haar graad cum laude verwerf.

Sy is gebore sonder ’n corpus callosum – die massa senuvesels wat die linker- en regterkant van die brein met mekaar verbind.

Dit is ’n baie seldsame breinafwyking wat by geboorte reeds bestaan en statistiek toon dat slegs 10% kinders wat sonder ’n corpus callosum gebore word, uiteindelik normaal grootword.

“Toe my moeder swanger was met my, het die radioloog dit tydens die sonarsessies misgekyk en dit is ’n wonderwerk dat ek vandag hier is, aangesien babas wat met hierdie toestand gediagnoseer word, gewoonlik nie gebore word nie.” Aangesien mediese wonderwerke elke dag plaasvind, vermoed dokters nou dat haar brein sy eie verbindings gevorm het wat die linker- en regterkant van die brein deur haar cerebellum – ook bekend as die kleinbrein – verbind.

Sy is in 2013 gediagnoseer met skoliose, wat ’n sywaartse verkromming van die ruggraat is. Dit was vir haar ’n geweldige uitdaging, en sy moes aktiwiteite soos netbal en tennis staak, aangesien dit groot spanning op haar rug geplaas het.

“Ek is mal oor sport en ek het op daardie stadium op provinsiale vlak aan drie sportsoorte deelgeneem. Ek kon egter daarin slaag om steeds aan atletiek deel te neem.”

Sy noem dat sy in die hoërskool verskeie moeilike uitdagings moes trotseer, maar sy het hard gewerk en in 2019 het sy besluit om by die NWU in te skryf.

“Tydens die vier jaar op universiteit is ek met vriende geseën met wie ek altyd ’n band sal hê, en hulle het my gemotiveer om deur te druk en my graad te voltooi. Ek gooi nie sommer tou op nie, en ek glo daaraan om elke geleentheid wat oor my pad kom, aan te gryp.”

René moet elke dag uitdagings oorkom, maar nie een daarvan was omdat sy nie ’n corpus callosum het nie.

“Alle eer aan God wat my so ver gebring het en my in staat gestel het om ’n normale lewe te lei. Ek het op gradedag die verhoog met soveel dankbaarheid betree, en ’n gevoel van vreugde en opwinding het oor my gespoel. Ek was so opgewonde om uiteindelik as onderwyser te kon kwalifiseer.”

Sy noem dat sy ’n wonderlike ondersteuningstelsel het en dat sy innig dankbaar is vir hulle. “Ek is gelukkig omdat my ouers my nog nooit laat voel het dat ek anders as ander kinders is nie. Hulle het my met die wete vervul dat ek sukses in die lewe kan behaal.” Sy bedank ook haar broers en susters, haar beste vriend en ander vriende, aangesien hulle haar van raad bedien het wanneer sy dit die meeste nodig gehad het en haar regdeur goeie en moeilike tye aangemoedig het.

“Ek het op ’n plaas grootgeword en dit is waar my liefde vir die natuur vandaankom, en dit is waar ’n mens my sal aantref. Ek hou ook daarvan om tyd saam met my familie deur te bring en ek sal altyd sulke oomblikke koester.”

René is tans ’n onderwyser by ’n skool in De Aar in die Noord-Kaap. “Ek is ’n graad 1-onderwyser en ek geniet elke oomblik daarvan. God kan wonderwerke doen en ek sien uit na die wonderlike dinge wat Hy oor my pad sal bring.”

“Ek hoop dat my getuienis studente en ouers sal inspireer. Mag ons nooit vergeet dat wonderwerke steeds plaasvind nie.”

....

...

René Engelbrecht

Submitted on Mon, 05/08/2023 - 15:33