Bedryfsrisiko’s is as die primêre bron van reputasierisiko vir Suid-Afrikaanse banke geïdentifiseer. So sê prof Suné Ferreira-Schenk, ’n professor in finansies en beleggings by die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe van die Noordwes-Universiteit (NWU).
Hoewel banke reeds dekades lank aan bedryfsrisiko’s onderhewig is, is daar dwingende redes om te verwag dat bedryfsrisiko’s in die toekoms slegs groter sal word namate reguleerders groter deursigtigheid vereis en banke meer op digitaletegnologie-outomatisering gaan staatmaak.
Prof Ferreira-Schenk se navorsing probeer om die vernaamste bedryfsrisikogebeurtenisse te identifiseer wat die waarskynlikste reputasierisiko vir Suid-Afrikaanse banke tot gevolg sal hê.
’n Selfgestruktureerde vraelys wat op potensiële bedryfsrisikosituasies gegrond is, is gebruik om primêre data van 417 deponeerders in Gauteng in te samel. Die studie het aan deelnemers gevra om ten opsigte van sewe bedryfsrisikogebeurtenisse en een suiwer reputasierisikogebeurtenis die waarskynlikheid te beoordeel dat hulle fondse uit hulle bankrekenings sal onttrek.
Die bedryfsrisikogebeurtenisse wat ontleed is, is op die wêreldwye sameloping van kapitaalmetings vir bedryfsrisiko gegrond. Dit het ingesluit (1) interne en (2) eksterne bedroggebeurtenisse, (3) indiensnemingspraktyke en veiligheid in die werkplek, (4) kliënte, produkte, en sakepraktyke, (5) skade aan fisiese bates, (6) besigheidsontwrigtings en stelselonderbrekings, (7) uitvoering, lewering en die bestuur van prosesse. ’n Enkele reputasierisiko wat ingesluit is, was die persepsie van die korporatiewe reputasie van die banke.
Die aanduiding van likiditeitsprobleme
’n Sespunt-Likertskaal, wat wissel van baie onwaarskynlik tot baie waarskynlik, is vir die evaluering gebruik. Deponeerders kon hierdie skaal gebruik om aan te dui hoe waarskynlik dit is dat hulle hulle fondse ná ’n bedryfsgebeurtenis sal onttrek, asook hoeveel (in persentasieterme) hulle waarskynlik sal onttrek. Hierdie inligting kan gebruik word om moontlike likiditeitsprobleme vir banke of selfs banklopies te identifiseer. ’n Banklopie vind plaas wanneer ’n groot aantal deponeerders as gevolg van vrese dat die bank in duie gaan stort gelyktydig hulle geld by ’n bank onttrek.
Gebeurtenisse wat ’n gemiddelde telling van 3,5 of meer het ten opsigte van die kans dat daar onttrekkings is, word as ernstig geklassifiseer. Volgens hierdie bevindings het eksterne bedrog die grootste reputasierisiko, gevolg deur die uitvoering en lewering van bankaktiwiteite en prosesse.
Ses uit agt gebeurtenisse is as ernstig geklassifiseer ten opsigte van die persentasie en waarskynlikheid dat gedeponeerde fondse onttrek gaan word. Sewe uit die agt gebeurtenisse is as ernstig beskou ten opsigte van hulle potensiaal om ná ’n bedryfsgebeurtenis ’n negatiewe impak op die deponeerder se persepsie van die bank te hê.
Die meeste van die navorsing op hierdie gebied kom uit ontwikkelde lande. Prof Ferreira-Schenk se navorsing verskaf gevolglik empiriese bewyse uit ’n ontwikkelende streek om die ernstigste bedryfsinsidente te identifiseer wat ’n bank se reputasie kan skaad.
Vir meer inligting oor haar navorsing, stuur ’n e-pos aan prof Suné Ferreira-Schenk by 23261048@nwu.ac.za.
Prof Suné Ferreira-Schenk sê bedryfsrisiko’s is die primêre bron van reputasierisiko’s vir Suid-Afrikaanse banke.