Regter Bess Nkabinde ontvang ’n eredoktorsgraad van die NWU

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het op 21 Oktober 2021 vir regter Bess Nkabinde met ’n eredoktorsgraad vereer vir haar buitengewone bydrae tot die regsberoep en tot maatskaplike geregtigheid in Suid-Afrika.

Sy is genomineer deur die Fakulteit Regte, met wie sy noue bande het, nie net vir haar noemenswaardige bydrae tot ons land se regswetenskap nie, maar ook omdat sy plaaslik en internasionaal ’n rolmodel vir baie mense is, veral vir vroue in die regsberoep.

Regter Nkabinde is in Noordwes gebore en het ’n LLB-graad aan die voormalige Universiteit van Noordwes verwerf. Sy het haar stempel afgedruk op ’n gebied wat tradisioneel deur mans oorheers is en het onverpoosd gewerk om die saak van plaaslike vroue op alle gebiede te bevorder.

Sy is in 1988 in Bophuthatswana as ’n advokaat toegelaat. Nadat sy haar pupilskap in 1989 by die Johannesburgse Balie voltooi het, is sy in Pretoria as advokaat toegelaat. Sy het in 1990 by die Noordwes Balie aangesluit, waar sy op die gebied van siviele litigasie, handelsreg, huweliksreg en strafreg gepraktiseer het.

Haar regterlike loopbaan het in 1999 as waarnemende regter van die Hoë Hof, Bophuthatswana Provinsiale Afdeling begin, en sy het in November van daardie jaar ’n permanente regter van daardie hof geword.

Regter Nkabinde het in 1994 tot 1995 deel gevorm van die Mpshe-kommissie van ondersoek na die opstand van bewaarders by die Mogwase-tronk. Sy is in 2003 aangestel om op die spesiale tribunaal te dien oor siviele sake wat waarskynlik sou voortspruit uit ondersoeke van die spesiale ondersoekeenhede wat ingevolge die Wet op Spesiale Ondersoekeenhede en Spesiale Tribunale, Wet 74 van 1996 ingestel is.

Sy het in 2000 en 2003 as waarnemende regter van die Arbeidshof gedien, en van Oktober 2004 tot Mei 2005 as waarnemende regter van die Arbeidsappèlhof. Sy het ook in 2005 vir twee termyne as waarnemende regter van die Hoogste Hof van Appèl gedien.

Sy is in Januarie 2006 as regter van die Konstitusionele Hof aangestel.

Oor haar ervaring by die Konstitusionele Hof het regter Nkabinde gesê: “Die Hof was ’n inspirasie en werklik iets om na uit te sien. Nie omdat ek daar was nie, aangesien ek nooit gedink het dat ek ’n regter in hierdie hof sal wees nie, maar wel as regsgeleerde, om te weet dat ons almal na hierdie verandering streef – ons moet almal help om ’n verskil te maak. As regsgeleerdes lewer ons werklik ’n bydrae tot ons regspleging. Uit daardie perspektief was dit werklik ’n ervaring … ’n opwindende ervaring.”

Terwyl sy by die Konstitusionele Hof diens gedoen het, is sy vanaf Mei 2016 tot Junie 2017 as waarnemende adjunkhoofregter, en in November 2016 as waarnemende hoofregter aangestel. Sy het in 2017 ná 12 jaar van diens uit die Konstitusionele Hof afgetree.

Regter Nkabinde het vanaf Mei 2016 tot Junie 2017 as waarnemende adjunkhoofregter van die Republiek van Suid-Afrika gedien, en is in November 2016 as waarnemende hoofregter van die Republiek van Suid-Afrika aangestel. Sy was sedert Oktober 2018 die waarnemende appèlregter van die hooggeregshof van Namibië.

Regter Nkabinde is as ’n lid en in 2004 as voorsitter van die Reëlsraad vir Geregshowe aangestel, en het daardie pos tot in 2013 beklee.

Sy was ook ’n lid van die Kleineisehof. Daarbenewens was sy ’n lid van die koördineringskomitee van die regstelsel in Suid-Afrika en van die subkomitee oor rassisme en seksisme in die regbank.

Haar kwalifikasies sluit ’n BProc-graad van die Universiteit van Zoeloeland in 1983, die LLB van die Universiteit van Noordwes in 1986, en ’n Diploma in Nywerheidsbetrekkinge (met onderskeiding) van Damelin College in.

Regter Nkabinde het al referate by verskeie instellings tuis en oorsee gelewer, en het ’n inleidende kursus in Suid-Afrikaanse grondwetlike regswetenskap vir nagraadse studente by die Maryland Law School in die Verenigde State aangebied.

........

Regter Bess Nkabinde ontvang ’n eredoktorsgraad van die Noordwes-Universiteit.

Submitted on Thu, 10/21/2021 - 11:07