Rassie Erasmus gaan ’n eredoktorsgraad van die Noordwes-Universiteit ontvang

Die Noordwes-Universiteit (NWU) gaan ’n eredoktorsgraad toeken aan die Springbok-hoofafrigter en voormalige SA Rugby se Direkteur van Rugby, Johan “Rassie” Erasmus, wat Suid-Afrika gehelp het om die Rugby Wêreldbeker te wen. Die NWU Raad het die besluit tydens hulle gewone vergadering op Donderdag 16 November 2023 goedgekeur. Die versoek vir die toekenning van die graad Philosophiae Doctor (Honoris Causa) in Afrigtingkunde, is deur die NWU se Fakulteit Gesondheidswetenskappe ingedien.

Die eredoktorsgraad gaan aan Erasmus toegeken word ter erkenning van sy innoverende en buitengewone bestuur van die Springbokke tydens hulle oorwinnings in 2019 en 2023 se Wêreldbekertoernooie, sy besondere posisie in die internasionale rugby-afrigtersarena, sy sterk dryfkrag en fokus op diversiteit en inklusiwiteit, en sy verbintenis tot maatskaplike verantwoordelikheid.

Benewens sy visionêre leierskap, het hy ook ’n onwankelbare verbintenis tot die Sporttransformasiehandves – wat by die Strategiese Plan van die Departement van Sport en Ontspanning ingesluit is – wat ’n sistematiese verandering in die ontwikkeling van talent en vaardighede regoor die nasionale rugbyspektrum meegebring het.

Erasmus het getoon dat hy ’n nasiebouer is op wie die land trots kan wees.

“Rassie verpersoonlik die beginsels van veerkragtigheid, vasberadenheid en spanwerk wat vir ons by die Noordwes-Universiteit in ons opvoedkundige missie van groot waarde is. Sy bydrae aan Suid-Afrika – as rugbystrateeg en ook nasiebouer – dien as ’n skitterende voorbeeld van wat vermag kan word wanneer passie, toewyding en visionêre leierskap saamgevoeg word. Hierdie gesogte erkenning is nie net welverdiend nie, maar ook ’n getuienis van die merkwaardige bydraes en buitengewone impak wat Rassie op die gebied van sport en innoverende sportbestuur gemaak het,” sê Bert Sorgdrager, Raadsvoorsitter.

“Sy verbintenis tot inklusiwiteit en transformasie in sport het nie net aan rugby nuwe lewe gegee nie, maar gedien as ’n kragtige simbool van versoening en eenheid in ’n nasie met ’n komplekse geskiedenis. Onder sy leiding het die Springbokke nie net rugbyroem verwerf nie, maar ’n verenigde krag geword wat mense van alle agtergronde en oortuigings byeenbring. Sy klem op spanwerk, dissipline en toewyding strek baie verder as die sportarena, en bied lewenslesse wat nie net aspirerende atlete inspireer nie, maar ook gewone mense in hulle daaglikse lewens. Hy gebruik sy invloedsfeer sinvol om maatskaplike verandering te bepleit, ’n omgewing aan te moedig waar diversiteit en inklusiwiteit gevier word, en om verskille as sterk punte eerder as swakhede te sien,” het Sorgdrager afgesluit.

Rassie het met baie waardering op 7 Maart 2024, die eer aanvaar wat aan hom verleen word. Die seremonie gaan binne die volgende paar maande op die Potchefstroomkampus van die NWU plaasvind. Volle besonderhede sal bekend gemaak word.

Submitted on Fri, 03/08/2024 - 09:11