Rachael veroorsaak groot golwe in die oop water

As jou knieë lam word as jy daaraan dink dat jy 10 km moet stap, dink net hoe jou arms sal kla as jy daardie afstand moet swem.

Vir Rachael Humphries is dit maar net nog ’n dag in haar waterkantoor. Trouens, hierdie BA-student in Gesondheidswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU), wat in Randburg gebore is en aan The King’s School Robin Hills gematrikuleer het, floreer op uitdagings soos hierdie.

“Ek neem aan die 3 km-, 5 km-, 7,5 km- en 10 km-swemkompetisies in oop water deel. Die verste afstand wat ek al voltooi het, is die 10 km, en ek dink nie ek gaan in langer afstande as dit meeding nie. Ek hou daarvan hoe ontspanne ’n mens in die water voel, en ek hou van die feit dat dit al die daaglikse stres van jou laat afval. Dit stel jou in staat om na ’n ander wêreld te ontsnap,” verduidelik sy.

Rachael swem al sedert die ouderdom van vyf jaar mededingend, nadat sy eers iets van waterveiligheid geleer het. “Ek het my liefde vir die water ontdek, en van toe af het dit net nie opgehou nie.”

Benewens oopwaterswem, neem sy in die swembad aan rugslag en vryslag deel, maar dit is in die oop water waar sy werklik in haar element is. “Die langer afstande is oor die algemeen my gunstelinge.”

Die hart wil hê wat die hart wil hê, hoe moeilik dit ook al mag wees.

“Wanneer die hoogseisoen daar is, eis die oefening nogal baie van ’n mens se liggaam. In die hoogseisoen werk ons aan spoed, uithouvermoë en die pas van die resies, en ons kan tot agt keer per week oefen. Dit kan by tye nogal uitmergelend wees. My beste prestasies is waarskynlik in die oop water, waar ek by die nasionale kampioenskappe al in twee afsonderlike jare ’n silwer- en ’n bronsmedalje in die 19- tot 29-jaar-kategorie vir die 3 km-resies ontvang het. Die nasionale kampioenskap vir oopwaterswem is ’n baie groot kompetisie waar die grootste name in oopwaterswem in Suid-Afrika meeding. Ons oopwaterswem vind gewoonlik in damme plaas. Op die oomblik word ons kwalifisering by Prime View in Olifantsfontein plaas, en ons nasionale kampioenskap vir oopwaterswem is by Marina Martinique in Jeffreysbaai. Ek het nog nooit in die see deelgeneem nie. Ek is ’n bietjie skepties om saam met haaie te swem, maar ek is seker dat ek een of ander tyd daarby sal uitkom,” glimlag sy.

Rachel het in 2022 vier top-tien-graderings in Swem Suid-Afrika se kategorieë vir 19 jaar en ouer gehad.

Wat haar doelwitte vir die toekoms betref, hoop sy om nog steeds te swem teen die tyd dat sy gradueer, waarna sy ’n biokinetikus wil word wat met professionele sportspanne werk. Anders wil sy graag by hidroterapie met pasiënte met ’n serebrale gestremdheid betrokke wees.

Haar rolmodelle sluit twee wêreldbekende vroue in en sy hoop om hulle prestasies te kan ewenaar.

“Ek het van kleins af vir Natalie du Toit bewonder. Haar deursettingsvermoë om haar gestremdheid te oorkom en steeds iets te doen waarvoor sy lief is, is iets wat ek nog altyd bewonder het. Meer onlangs was dit Michelle Weber wat by twee Olimpiese Spele aan oopwaterswem deelgeneem het. Sy het so pas ook oor die Engelse Kanaal geswem. Haar prestasies is ongelooflik, en vir my om te kan bereik wat sy bereik het, sal wonderlik wees.”

Wanneer sy nie swem nie, geniet Rachael dit om te hardloop, te lees of flieks en reekse te kyk. “Ek is ook ’n groot rugby-ondersteuner. Mense weet al dat ek vroeg sal gaan oefen om na ’n Varsitybeker-rugbywedstryd te kan kyk,” lag sy.

Sy bly nederig en gee toe dat haar sukses nie net uit haarself kom nie.

“Ek wil graag my ouers bedank. Hulle het my oral geneem waar ek moes gaan en hulle maak seker dat ek alles het wat ek nodig het wanneer ek aan kompetisies moet deelneem. Sonder hulle sou ek nie gewees het waar ek vandag is nie. Ek wil my grootouers ook bedank vir hulle eindelose ondersteuning, en ook al die afrigters wat ek gehad het. Ek het talle afrigters gehad wat ’n bydrae gelewer het tot die persoon wat ek is en die manier waarop ek sport benader. Ek wil God bedank vir al die talent wat ek ontvang het en ek wil dit gebruik om Hom te eer.”

....

Rachael Humphries

Submitted on Fri, 07/07/2023 - 11:47