QS World University Rankings sluit NWU by twee vakgebiede in

Die Noordwes-Universiteit (NWU) word steeds op internasionale ranglyste geplaas. Die jongste Quacquarelli Symonds (QS) World University Rankings by Subject sluit die NWU by twee vakgebiede in: landbou en bosbou, en medisyne.

Die 2023 QS World University Rankings by Subject plaas die NWU in die 351-tot-400-kategorie vir landbou en bosbou en in die 551-tot-600-kategorie vir medisyne. Dit is die eerste jaar dat die NWU op die ranglystabel vir landbou en bosbou verskyn.

QS het hulle ranglys op 22 Maart gepubliseer. Hulle het 1 594 instellings in 161 liggings ingesluit, en ranglyste vir 54 vakke in vyf breë vakgebiede opgestel.

Hulle het vyf aanwysers gebruik om ’n plek op die ranglys te bepaal. Dit het akademiese reputasie; werkgewerreputasie; aanhalings per artikel; die h-indeks (meting van die stabiliteit van die impak en gehalte van die werk wat deur die instelling se wetenskaplikes en vakkundiges gepubliseer is); en die Internasionale Navorsingsnetwerk (IRN) (die meting van die effektiwiteit van die vestiging van stabiele navorsingsamewerkings in al die breë vakgebiede) ingesluit.

Dit is nie die eerste keer dat die NWU op die QS-ranglys verskyn nie. Die NWU was in Junie verlede jaar wêreldwyd in die 1 001-tot-1 200-kategorie vir die 2022/2023 QS World University Rankings. Dit het die NWU onder die agt top- Suid-Afrikaanse universiteite geplaas. Die NWU se prestasie was vir die afgelope vier jaar konsekwent in hierdie kategorie van die ranglys. Vir meer inligting, besoek https://www.topuniversities.com/subject-rankings/2023.

Om meer oor die NWU se prestasie op die verskillende ranglyste uit te vind, besoek: https://nwu.ac.za/rankings.

Submitted on Wed, 03/22/2023 - 13:14