QS-ranglys plaas drie NWU-vakgroepe in die top-700

Die Noordwes-Universiteit (NWU) sit sy indrukwekkende vertoning op internasionale ranglyste voort. Die jongste Quacquarelli Symonds (QS) World University Rankings by Subject plaas drie van die NWU se vakgroepe in die top-700 wêreldwyd, met een van hulle in die top-400. Dit sluit landbou en bosbou, fisika en sterrekunde, en medisyne in.

Hoewel die NWU nog nie ’n mediese skool het nie, word vakke aangebied wat binne die medisynekategorie val. Hierdie vakke sal ’n sterk basis vorm vir die NWU Mediese Skool, wat beoog om studente vanaf 2028 in te skryf.

Die 2024 QS World University Rankings by Subject het die NWU in die 301-tot-350-kategorie vir landbou en bosbou, in die 601-tot-650-kategorie vir medisyne en gesondheidswetenskappe, en in die 601-tot-640-kategorie vir fisika en sterrekunde geplaas. Dit is die eerste jaar dat die NWU op die ranglystabel vir fisika en sterrekunde verskyn. Die universiteit het sy posisie op die ranglys vir landbou en bosbou vanaf verlede jaar se 351-tot-400-plek verbeter.

QS het die ranglys op 10 April gepubliseer en dit het 1 559 instellings ingesluit. Die ranglyste strek oor 55 vakke in vyf breë vakgebiede.

QS het vyf aanwysers gebruik om ’n plek op die ranglys te bepaal. Dit het akademiese reputasie; werkgewerreputasie; aanhalings per artikel; die h-indeks (meting van die stabiliteit van die impak en gehalte van die werk wat deur die instelling se wetenskaplikes en vakkundiges gepubliseer is); en die Internasionale Navorsingsnetwerk (IRN) (die meting van die effektiwiteit van die vestiging van stabiele navorsingsamewerkings in al die breë vakgebiede) ingesluit.

Dit is nie die eerste keer dat die NWU op die QS-ranglys uitblink nie. Die NWU was in Junie verlede jaar wêreldwyd in die 801-tot-850-kategorie op die 2023/2024 QS World University Rankings. Dit het die NWU onder die topsewe Suid-Afrikaanse universiteite geplaas. Die NWU is ook onder die topagt uit 43 instellings op die vasteland op die QS-ranglys vir volhoubaarheid. Die ranglys vir volhoubaarheid kyk na die reaksie van hoëronderwysinstellings op belangrike omgewings-, maatskaplike en bestuurskwessies.

Om meer oor die NWU se prestasie op die verskillende ranglyste uit te vind, besoek: https://nwu.ac.za/rankings.

Submitted on Wed, 04/10/2024 - 14:13