QS plaas die NWU onder die topsewe universiteite in Suid-Afrika

Die jongste Quacquarelli Symonds (QS) World University Rankings plaas die Noordwes-Universiteit (NWU) onder die topsewe universiteite in Suid-Afrika. QS het die ranglys vir topuniversiteite in die wêreld vir 2025 op 4 Junie gepubliseer.

Die NWU het konsekwent onder plaaslike universiteite op hierdie ranglyste presteer – QS het die NWU verlede jaar ook sewende in die land geplaas. Wêreldwyd het die NWU na die ranglyskategorie 851 tot 900 gevorder.

Dit is nie net wêreldwyd en plaaslik dat die NWU skitter nie. Volgens die QS is die NWU nou onder die topdertien universiteite in Afrika.

Die universiteit het sy posisie in die kategorieë vir indiensnemingsuitkomste sowel as aanhalings per fakulteit verbeter.

Hierdie huidige gradering deur die Londen-gebaseerde QS was die 21ste uitgawe en het 1 500 instellings regoor 105 hoëronderwysstelsels van regoor die wêreld ingesluit. Dit gebruik opnameresponse en harde data om die finale telling vir elke universiteit te bereken. QS is die enigste ranglys van sy soort om indiensneembaarheid en volhoubaarheid te beklemtoon.

Die jongste QS-ranglyste volg op hulle World University Rankings by Subject, wat in April hierdie jaar gepubliseer is. Die Rankings by Subject plaas drie NWU-vakgroepe in die top-700 wêreldwyd. Dit is landbou en bosbou (kategorie 301 tot 350), fisika en astronomie (kategorie 601 tot 640), en medisyne en gesondheidswetenskappe (kategorie 601 tot 650). Vir meer inligting, besoek: https://www.topuniversities.com/universities/north-west-university, en vir meer oor die NWU se prestasie op die verskillende ranglyste, besoek: https://www.nwu.ac.za/rankings.

Submitted on Wed, 06/12/2024 - 09:23