PUKfm word weer eens vir die Suid-Afrikaanse Radio-toekennings benoem

Deur Sandile Mahlangu

Die benoemings vir die Suid-Afrikaanse Radio-toekennings 2023 is bekend, en die radiostasie op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), PUKfm, het vier benoemings ingeoes.

Die kategorieë waarvoor die kampusradiostasie (onder die kategorie vir kampusradiostasies) benoem is, is vir die beste ontbyttyd-omroeper (Best Breakfast Presenter) – Katlego Mahlangu; beste naweektyd-radioprogram (Best Weekend Radio Show) – The Ultimate Turnup; die beste dagprogram (Best Daytime Show) – Flashback Fridays; en wat die stasiebestuurder, Katlego Nkwe, as die heel grote beskou, die kampusradiostasie van die jaar (Campus Radio Station of the Year).

Die stasiebestuurder het ook gesê dat die benoemings vir hulle baie belangrik is, aangesien dit duidelik is dat die stasie op ’n nasionale skaal mededingend is.

“Hierdie benoemings dien as herinnering dat ons as radiostasie op die regte koers is. Dit toon ook dat die universiteit ’n groot rolspeler is wanneer dit by kampusradiostasies kom.”

Katlego Mahlangu, wat ’n omroeper en ’n benoemde vir die beste ontbyttyd-omroeper is, sê dat die benoeming vir haar as ’n skok gekom het, aangesien sy dit nie verwag het nie.

“Ek het die nuus ontvang terwyl ek besig was om wakker te word en my dag te begin. Ek het gedink ek droom nog, of dat my brein nog aan die slaap was,” sê sy.

Katlego het bygevoeg dat sy altyd daaraan dink hoe sy klink wanneer sy op die lug is, maar die benoeming het gehelp om daardie klein stukkie twyfel wat sy gehad het, uit die weg te ruim, en om haar loopbaan op die uitsaaigebied op ’n vaste grondslag te plaas.

Khanyisile Mahlangu, wat die aanbieder van The Ultimate Turnup is, het gesê dat sy ná haar vorige benoeming in 2022 besef het dat ’n benoeming op sy eie reeds ’n groot oorwinning is.

“Ons ding mee met ander groot kampusradiostasies in ons land, en as jou program as een van die beste vyf gekies word, is dit uitsonderlik,” sê sy.

Barrie Ferreira, wie se program vir die beste dagprogram benoem is, het gesê dat hy hoop dat die benoemings as inspirasie sou dien vir studente wat deel van die stasie wil wees, aangesien die stasie nie net ’n stasie is wat vir die Suid-Afrikaanse Radio-toekennings genomineer is nie, maar ook ’n bekroonde radiostasie.

Die stasie het in 2018 ook die toekenning vir die kampusradiostasie van die jaar gewen, en ander programme het ook al in die verlede toekennings gewen.

Nkwe sê hy is trots op hulle lugtyd-vrywilligers, en hy is ook bly dat hulle talent weer eens erkenning ontvang.

Die wenners sal aangekondig word op die galadinee van die Suid-Afrikaanse Radio-toekennings, wat op 2 Desember 2023 sal plaasvind.

....

Barrie Ferreira, wie se program, Flashback Fridays, benoem is vir die beste dagprogram (Best Daytime Show) in die kampusradiostasiekategorie.

....

Katlego Mahlangu is benoem vir die toekenning as die beste ontbyttyd-omroeper (Best Breakfast Presenter) in die kampusradiostasiekategorie.

.....

Khanyisile Mahlangu, wie se program, The Ultimate Turnup, benoem is vir die beste naweekradioprogram (Best Weekend Radio Show) in die kampusradiostasiekategorie.

Submitted on Thu, 10/19/2023 - 09:50