Protea-krieketspan noem weer NWU hulle “tuisveld”

Die nasionale krieketspan, die Proteas, het van 22 tot 24 Augustus die Noordwes-Universiteit weereens hulle “tuisveld” genoem toe hulle die universiteit se Sport Village in Potchefstroom as voorbereidingsbasis gebruik het.

Die Proteas speel vanaf 2 September in drie eendagwedstryde teen Sri Lanka op laasgenoemde se eilandtuiste, waarna drie T20-wedstryde volg. Kaptein Temba Bavumba se troepe durf daarna vir Australië op 23 Oktober in Abu Dhabi aan, wanneer hulle T20-Wêreldbekerveldtog begin.

Die Proteas het Senwespark se geriewe – net langs die Sport Village – gebruik. Hierdie veld is natuurlik ʼn baljaarplek vir Protea-kolwers. In 2006 het die Proteas die wilgerlat sonder enige meegevoel geswaai om 418 lopies vir 5 paaltjies teen Zimbabwe op te stapel. In 2003 het die seëvierende Aussies in die Wêreldbeker ook hulle kolwe by Senwespark in Potchefstroom laat praat. Die Proteas, sowel as menigte graafskap- en ouderdomgroepkrieketspanne, maak gereeld van die NWU en Senwespark se geriewe gebruik.    

 

Submitted on Mon, 08/30/2021 - 08:54