Projekspan wil hê dat alle universiteitstudente toegang tot inheemse Afrikatale moet hê

Universiteitstudente wie se moedertaal nie Engels is nie, behoort nie benadeel te word vergeleke met dié wat Engels tuis praat nie. Dit is waarom dit belangrik is om die speelveld ten opsigte van taal gelyk te maak.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is een van vier tersiêre-onderwysinstellings in Suid-Afrika wat saam met drie Europese universiteite werk om die gebruik van inheemse Afrikatale as medium van onderrig in tersiêre onderwys moontlik te maak en te bevorder.

Die projek staan bekend as BAQONDE – Boosting the Use of African Languages in Education; A Qualified Organised Nationwide Development Strategy for South Africa. Dit is ’n gesamentlike kapasiteitsbouprojek wat ten doel het om aan alle universiteitstudente toegang tot die gebruik van Afrikatale te gee sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik. Die woord “baqonde” beteken “(laat hulle) verstaan” in die Nguni-taalgroep van Suid-Afrika.

Die Erasmus+-program van die Europese Unie is die medefinansier van hierdie driejaarprojek.

Die NWU is een van die vernaamste universiteite wat by die projek betrokke is, saam met die Universiteit van Salamanca, Spanje. Die NWU word verteenwoordig deur Johan Blaauw van die Taaldirektoraat, wat deur prof Rosemary Wildsmith-Cromarty bygestaan word. Sy verteenwoordig die NWU op die kwaliteitsversekeringskomitee en die verspreidingskomitee, wat deel is van die administrasie van die projek.

Reaksie op ongelykheid

Volgens prof Wildsmith-Cromarty is BAQONDE ’n oproep vir almal om hande te vat in reaksie op ongelykhede in die onderwysstelsel, waar studente wie se huistaal een van die Afrikatale is, dikwels agtergelaat word.

Sy sê dat die meeste Suid-Afrikaanse studente in die primêre-, sekondêre- en tersiêre-onderwysstelsel nie Engels as huistaal het nie. “Tog word inheemse Afrikatale – behalwe Afrikaans – steeds nie omvattend as onderrigmedium gebruik nie. Navorsing het die negatiewe impak beklemtoon wat hierdie situasie op studente se prestasie kan hê.”

Die visie van Suid-Afrika se nasionale onderwysowerhede is om aandag aan hierdie probleem te gee deur die ontwikkeling en gebruik van Afrikatale as onderrigmedium aan te moedig, sê prof Wildsmith-Cromarty. Hierdie doelwit is egter vertraag deur kwellings rakende onder andere personeel, opleiding en infrastruktuur.

“Die onlangse goedkeuring van die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika vereis egter nou dat inheemse Afrikatale as medium van onderrig en as tale van hoër akademiese diskoers ontwikkel moet word, en beklemtoon die kritieke rol van universiteite in die ontwikkeling van inheemse Afrikatale,” sê sy.

“BAQONDE verskaf binne hierdie beleidskonteks ’n doeltreffende reaksie op hierdie prioriteite.”

Die projekkonsortium sal ’n nuwe en doeltreffende interinstitusionele netwerk van Afrikataal-ontwikkelingseenhede (ALDU’s) daarstel, asook opleiding verskaf, materiaal ontwikkel en ’n bydrae tot norme en standaarde vir meertalige onderrig in hoër onderwys lewer.

DHOO belowe sy ondersteuning

Mahlubi Mabizela, hoofdirekteur vir universiteitsopleiding-beleid en -ondersteuning in Suid-Afrika se nasionale Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, sê die volgende: “Die BAQONDE-projek met sy doelwit om die gebruik van inheemse Afrikatale as medium van onderrig by hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika te fasiliteer en te bevorder, onderskryf ongetwyfeld die doelwitte van die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings.

“Die BAQONDE-projek lei ons op die pad na die herstel van die waardigheid van ons inheemse tale en bied die geleentheid vir gelyke agting, en dit is inderdaad lofwaardig. Dit is baie bemoedigend en is die soort entoesiastiese reaksie wat ons hoop deur ander instellings nagevolg sal word.”

Prof Wildsmith-Cromarty sê die BAQONDE-span by die NWU sal nóú met die Skool vir Taalonderwys in die Fakulteit Opvoedkunde saamwerk. “Laasgenoemde huisves ook die nuwe Sentrum vir Afrikataal-onderrig (CALT) vir Tswana, dus sal daar sinergie tussen die sentrum en die projek wees.”
Daarbenewens is die Fakulteit Opvoedkunde verantwoordelik vir die ontwerp en implementering van die kortleerprogram in Meertalige Pedagogie, wat goed by die opleidingskomponent van die BAQONDE-projek inpas. Prof Langa Khumalo van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne (SADiLAR) is ook by die projek geaffilieer.

Se sê dat die Fakulteit Opvoedkunde geweldig bly is om sy kundigheid in meertaligheid, vertaling en tolking aan hierdie belangrike gebied beskikbaar te stel. “Ons sien daarna uit om met ons Europese en Suid-Afrikaanse vennote saam te werk om ’n bydrae tot die groei van die Afrikatale in hoër onderwys te lewer, veral deur materiaalontwikkeling en opleidingsprogramme in meertalige pedagogieë.”

Die ander Suid-Afrikaanse universiteite wat aan die projek deelneem, is die Universiteit van KwaZulu-Natal, Rhodes Universiteit en die Universiteit van die Wes-Kaap. Die Europese universiteite is die Universiteit van Groningen (Nederland), Trinity College Dublin (Ierland) en die Universiteit van Salamanca (Spanje).

Besoek die projek se webwerf by https://baqonde.usal.es

Rosemary Cromarty Johan Blaauw
Prof Rosemary Wildsmith-Cromarty Johan Blaauw


 
        

Submitted by MARELIZE SANTANA on Tue, 08/03/2021 - 15:51