Projek oor vloektaal lewer wetenskaplike kennis

“Myns insiens het dit besonder goed gegaan met die projek. Nie net is die tegnologie en infrastruktuur daargestel vir goeie navorsing in die komende jare nie, maar ons het ook ’n groot klomp geregistreerde gebruikers gekry.”So sê prof Gerhard van Huyssteen, professor van Afrikaanse en Nederlandse Taalkunde by die Noordwes-Universiteit (NWU), ʼn jaar nadat die unieke multidissiplinêre navorsingsprojek oor Afrikaanse vloekwoorde van stapel gestuur is.

Prof Van Huyssteen sê die projek het nie net nuwe multidissiplinêre insigte in Afrikaanse vloekwoorde en vloekgedrag opgelewer nie, maar ook effektiewe maniere ontgin om wetenskaplike kennis op nuwerwetse maniere aan te bied.

Die projek is ingedeel in vyf subprojekte. Dit is vloek en die regswêreld, ’n ensiklopediese konstruktikon van Afrikaanse vloekwoorde (Vloekepedia), vloek in die vermaaklikheidswêreld en media, ʼn projekwebwerf en, ʼn projek om te bepaal indien en tot watter mate vloektaal as taalkundige innovering gebruik kan word om korttermyn-taalverandering te weeg te bring.

Hy sê die projek oor vloek en die regswêreld is tans gestaak terwyl die span wag vir bykomende befondsing.

“ʼn Kernleksikon van 711 woorde of uitdrukkings is reeds saamgestel vir die Vloekepedia, en aanstootlikheidsgraderings vir 24 woorde is reeds empiries deur middel van vraelyste en die projek se webwerf gedoen.”

Die Covid-19-inperkings het egter ook sy letsels op die projek gelaat, met prof Van Huyssteen se beplande besoek aan die Instituut vir die Nederlandse Taal in Nederland wat uitgestel moes word en opnames in die vermaaklikheidswêreld wat ook gestaak moes word.

Prof Van Huyssteen sê die webtuiste (vloek.co.za) is ten volle funksioneel, veilig en eindgebruiker-vriendelik. Op ander sosialemediaplatforms is ʼn Facebook-blad, Instagram-, Twitter- en Pinterest-rekenings op die been gebring wat onder meer deur ʼn nagraadse student onderhou word.

“Twee meestersgraadstudente het geregistreer om die vloek, taal-innovasie, konstruksionalisering en taalverandering te bestudeer,” sê hy.

“Dit bly steeds ons primêre doel om die leemtes in kennis oor en begrip van vloek in die Suid-Afrikaanse konteks aan te vul, en sekondêr om alternatiewe, hedendaagse geleenthede vir wetenskaplike kommunikasie te ondersoek, spesifiek gefokus op podsendings, blogs, video’s en webinare.”


Prof Gerhard van Huyssteen

Submitted on Wed, 10/21/2020 - 13:35