Projek ondersoek hoe om winsgewendheid van inheemsetaalmedia te bevorder

Die navorsingsnisarea Inheemsetaalmedia in Afrika (ILMA) by die Noordwes-Universiteit (NWU) is besig met ’n driejaar-navorsingsprojek om Suid-Afrika se sukkelende inheemsetaalmedia te help.

Die afgelope paar jaar was daar baie groot sluitings en herstrukturering van mediahuise in Suid-Afrika, party as gevolg van die toetrede van digitale platforms en sosiale media, wat tot die afname in inkomste uit advertensies en sirkulasie gelei het.

Hierdie tendens het meer druk geplaas op inheemsetaalmedia wat alreeds as gevolg van faktore soos die gebrek aan ondersteuning, finansiële beperkings en die verskuiwing na digitale platforms gesukkel het, sê prof Abiodun Salawu van die ILMA.

Die ILMA het teen hierdie agtergrond besluit om verskeie studies oor die volhoubaarheid van die inheemsetaalmedia in Afrika uit te voer.

Prof Salawu sê die studies sal deur ’n R735 000-navorsingstoekenning van die Mededingende Program vir Gegradeerde Navorsers (MPGN) van die Nasionale Navorsingstigting befonds word. Dit is die tweede MPGN-toekenning wat die ILMA gewen het, en dit word ontvang benewens beurse vir studente wat hulle studies in die projek gaan uitvoer.

Die driejaartoekenning sal ses honneursgraadstudente, vier meestersgraadstudente en twee PhD-studente asook ’n postdoktorale genoot finansier wat studies oor die ontwikkeling en volhoubaarheid van Afrikataalmedia sal uitvoer. Die projek loop van 2022 tot 2024.

Prof Salawu sê die navorsing probeer uitvind waarom besighede in die Afrikataalpers onstabiel is en wat gedoen kan word om joernalistiek in Afrikatale in winsgewende produkte van gehalte te ontwikkel.

“Ons wil ook kyk hoe inheemse tale geïntellektualiseer en ontwikkel kan word sodat velde oor wetenskap en tegnologie, besigheid, finansies en ekonomie in inheemsetaalkoerante doeltreffend gedek en die konsepte goed verduidelik kan word,” sê hy. Die ILMA sal tydens hierdie proses met die bedryf skakel en saamwerk.

Die projek sal ook ondersoek watter uitwerking digitisering op die winsgewendheid of andersins van die Afrikataalmedia kan hê.

“Die pers vir inheemse tale is besig om uit te sterf. Die publikasies wat nie sterf nie, sukkel. Om te oorleef, moet die Afrikataalpers sensasionele joernalistiek toepas.

“Die meeste publikasies wat as inheemsetaalpers begin het, het na Engels oorgeskakel, maar het die titel in ’n Afrikataal behou, of hulle het toegemaak. Ons wil oplossings aan die hand doen om dit te verander. Ons wil ook vasstel watter soort sakemodelle aanvaar kan word om hierdie inheemsetaalpublikasies volhoubaar te maak,” sê prof Salawu.

Prof Salawu

Prof Abiodun Salawu

Submitted on Tue, 03/29/2022 - 16:04