Professor Phil van Schalkwyk lewer intreelesing

Professor Phil van Schalkwyk het sy intreelesing, getiteld: Die lewende verlede van die letterkunde, gelewer.

Sy lesing het gefokus op ’n ondersoek van die mens se verhouding met die verlede, en spesifiek in ’n literêr-artistieke konteks. Teen die agtergrond hiervan lê daar ’n antipatriargale diskoers waaraan hy in sy eie navorsing deelgeneem het, met ’n spesifieke fokus op die romans van Eben Venter.

Hy het ’n versoenende reis ten opsigte van die self en ander aan die hand van Venter se onlangse roman, Green as the sky is blue, aangepak.

Prof Dumi Moyo, die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe, het die verwelkomingsrede gelewer. Hy het gesê dit is ’n trotse oomblik vir die fakulteit om as gasheer vir prof Phil se intreelesing op te tree.

Hy het ook beklemtoon dat dit ’n gewigtige gebeurtenis in iemand se loopbaan en ’n noodsaaklike deurgangsrite is, waar ’n mens die geleentheid kry om jou kennis oor te dra en die ontdekkings op jou reis met die akademiese sowel as die nie-akademiese gemeenskap te deel.

Prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir Onderrig en Leer, het aan prof Van Schalkwyk ’n sertifikaat oorhandig en hom gelukgewens.

Prof Balfour het in sy toespraak beklemtoon dat prof Phil se ontwikkeling ook die ontwikkeling van die fakulteit is – ’n groot en komplekse fakulteit wat regoor ’n veelvoud van dissiplines strek, van letterkunde tot sosiologie, van die skone kunste en geskiedenis tot bestuur en publieke administrasie.

Hy het ook bygevoeg dat waardevolle hulpbronne soos tyd en geleenthede in elke akademikus se ontwikkeling belê word op ’n wyse wat hulle in staat stel om in ’n breë kompleksiteit van gebiede en multidissiplinêre werk te spesialiseer.

Hy het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die leierskap van die fakulteit wat by die lesing teenwoordig was, asook teenoor diegene wat ter ondersteuning van prof Phil virtueel by hulle aangesluit het.

Prof CA Breed, ondervoorsitter van die vakgroep Afrikaans en Nederlands, het prof Phil namens die fakulteit bedank. Sy het beklemtoon hoe hy altyd bereidwillig was om op enige moontlike manier van hulp te wees.

“Jy is ’n mentor en ’n vriend en ons wil jou gelukwens met hierdie mylpaal. Die fakulteit is trots op jou,” het sy gesê.

Sy het ook almal bedank wat die geleentheid fisiek en virtueel bygewoon het.

Oor prof Van Schalkwyk

Prof Van Schalkwyk het ’n MA in Afrikaanse en Nederlandse Letterkunde, cum laude, onder leiding van prof Heilna du Plooy, saam met professors Jacques van der Elst en Wannie Carstens as medestudieleiers, aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO voltooi. Hy het in 2004 ’n PhD in Algemene Teorie van Letterkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU), met prof Hein Viljoen as sy promotor, verwerf.

Die navorsing vir sy MA sowel as sy PhD het ingesluit dat hy met behulp van beurse van die Nederlandse Taalunie, onderskeidelik in Antwerp, België (1996–1997), en Leyden, Nederland (2000) gewoon het, waar prof Eep Francken sy mentor was. Vanaf September 2001 tot Maart 2006 was hy ’n senior lektor by die Adam Mickiewicz Universiteit in Poznań (Pole), waar hy verskeie modules gedoseer het in die program Suid-Afrikaanse Studies, wat deur prof Jerzy Koch begin is.

Hy het in April 2006 na die NWU teruggekeer, en in 2008 is hy in die vakgroep Afrikaans en Nederlands in die Skool vir Tale aangestel. Hy onderrig Afrikaanse en Nederlandse Literêre Teorie.

Prof Van Schalkwyk het in 2014 sy eerste NNS-gradering verkry, en in 2019 is sy gradering (C2) suksesvol hernu. Hy het in dieselfde jaar die Suid-Afrikaanse Akademie se Esther Greeff-prys vir ’n artikel in die Journal of Humanities (2017) ontvang waarin hy die roman Wolf, wolf in die konteks van Eben Venter se oeuvre herevalueer het.

Prof Van Schalkwyk was die promotor en studieleier vir verskeie suksesvolle nagraadse studies by die NWU wat met sy gebied van kundigheid verband hou, en het ook sy veelsydigheid getoon deur samewerkende nagraadse studieleiding in Kreatiewe Skryfwerk, Kunsgeskiedenis en Engels te verleen. Een van sy studente, Janien Linde, het in 2014 die Marius Jooste-medalje vir haar MA-verhandeling (cum laude) ontvang.

Hy is die skrywer van resensies van kreatiewe werk, ’n resensent vir verskeie vaktydskrifte, eksterne eksaminator van nagraadse navorsing (ook internasionaal) en ’n eksterne moderator. Hy het ook al vir kreatiewe verslae as resensent vir die DHOO en as beoordelaar vir NNS-graderingsaansoeke opgetree.

Prof Phil is van 2017 tot nou toe die medehoofredakteur van Literator. Hy dien ook op die redaksie van Dutch Crossing: Journal of Low Countries Studies. Hy was in 2018 en 2019 die waarnemende direkteur van die Navorsingseenheid Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse Konteks, en in Junie 2021 is hy vir ’n vyfjaartermyn as direkteur van hierdie entiteit aangestel.

Klik hier om na die intreelesing te kyk. 

Submitted on Thu, 12/09/2021 - 11:38