Professor Marietjie Havenga lewer intreelesing

’n Intreelesing is belangrik in die lewe en loopbaan van ’n akademikus.

Professor Marietjie Havenga het haar intreelesing, getiteld Koöperatiewe probleemgebaseerde leer in Inligtingstegnologie: Aktiewe leer vir die Vierde Industriële Revolusie, gelewer.

Prof Havenga het in hierdie lesing aangevoer dat die implementering van koöperatiewe probleemgebaseerde leer as  onderrigleerstrategie, ʼn bydrae kan lewer tot studente se aktiewe en verantwoordelike leervaardighede vir die Vierde Industriële Revolusie (4IR)..

Sy het die volgende sleutelpunte gebruik om die bespreking toe te lig:

  • Inleiding en agtergrond: die onderrig en leer van Inligtingstegnologie (IT);
  • Onderrig en leer in hoër onderwys: passiewe vs aktiewe leer;
  • Die inkorporering van probleemgebaseerde en koöperatiewe leer om die ontwikkeling van aktiewe leer by studente te bevorder;
  • Die ontwikkeling van selfgerigte leer as ’n noodsaaklike vaardigheid vir die toekoms;
  • Koöperatiewe probleemgebaseerde leer vir die 4IR ̶  ʼn navorsingsagenda.

Sy het haar lesing afgesluit deur die volgende te beklemtoon

Dosente moet doeltreffende onderrig en leer bevorder en innoverende maniere van assessering ondersoek en dit implementeer. Die doeltreffendheid van verskeie onderrigleer-strategieë moet verder ondersoek word, byvoorbeeld met die gebruik van koöperatiewe spelgebaseerde leer (game-based learning) en ondersoekende leer met die toepassing van virtuele realiteit.

Ten opsigte van die impak op die samelewing, kan dosente die Departement van Basiese Onderwys  oor die nuwe Kodering en Robotika-leerplan adviseer en onderwysers kan ondersteun word om geleenthede in die klaskamer te skep waar leerders noodsaaklike vaardighede vir die toekoms ontwikkel. .

’n Virtuele sentrum kan ook by die fakulteit ontwikkel word. Hier kan kollegas en studente interdissiplinêr saamwerk met die gebruik van verskeie platforms en sagteware om digitale geletterdheid, onderrig en leer vir die 4IR te bevorder, en geleenthede vir navorsing en ontwikkeling van innoverende artefakte te skep. 

Dr Pentecost Nkhoma, Skooldirekteur: Skool vir Wiskunde, Wetenskap- en Tegnologieonderwys, het die verwelkomingsboodskap gelewer. Hy het beklemtoon dat prof Havenga die vaandel van ons skool, ons fakulteit en die NWU hoog gehou het.

“Min mense bereik professorskap op haar gebied, aangesien dit  skaars in Inligtingstegnologie-onderwys is, en ons is besonder trots op haar.”

Prof Lloyd Conley, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, het die eer gehad om haar amptelike toga om te hang en haar biografie te lees.  Hy het ook beklemtoon dat dit inderdaad ’n heuglike geleentheid en ’n trotse oomblik vir almal is.  

In sy reaksie het prof Jako Olivier, professor in Multimodale Leer by die Skool vir Professionele Studies in Onderwys, gesê dat prof Marietjie se  aanbieding uitstekend was .

Prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir Onderrig en Leer, het aan prof Havenga ’n sertifikaat oorhandig en haar gelukgewens.

“Ons wil jou, asook die familie en lede van die fakulteit wat vanaand hier is, namens die visekanselier, dr Bismark Tyobeka, en die bestuur van die universiteit gelukwens.”

Hy het bygevoeg dat hy weet hoeveel jaar dit neem om ’n professor te word en wanneer daardie erkenning gegee word, is dit waarlik ’n teken van toetrede tot verskeie  jare van verdere ontwikkeling.

Klik hier om Prof Marietjie se biografie te lees. 

....

Prof Marietjie Havenga

....

Prof Marietjie Havenga en Prof Robert Balfour

Submitted on Thu, 07/14/2022 - 09:43