Prof Shan Simmonds oor die herbesinning oor menseregte – saam met en in die kurrikulum

 

Toe Suid-Afrika in 1994 tot ’n demokratiese staat verklaar is, was prof Shan Simmonds net 11 jaar oud. Hoewel sy besef het dat dinge om haar verander, kon sy nie die dieper diskoers verstaan wat hierdie veranderings deurtrek het nie. Haar ervaring was dat ’n handjievol swart leerders gevoeg is by wat tot op daardie stadium ’n plaasgemeenskapskool slegs vir wittes was.

Die sogenaamde handjievol se getalle het gou toegeneem, en in teenstelling met wat ’n mens sou kon dink, veral as in ag geneem word dat die onderwyspersoneel onveranderd gebly het, het prof Simmonds geen gevoel van ’n rasseverdeling of diskriminasie gekry nie. Die sfere van die skoollewe het skielik uiteenlopend en anders geword, maar beslis nie vyandig nie. Regdeur hoërskool is dinge grootliks op dieselfde manier waargeneem, maar dit het op universiteit drasties verander.

Prof Simmonds se voorheen wit universiteit het ná ’n geskiedenis van 25 verskillende wit visekanseliers en ’n 70%-wit studenteliggaam na sy eerste swart visekanselier oorgeskakel. Die verdeling was baie duidelik. Ouer geslagte het oorgekom as aktiviste wat die littekens van jare se diskriminasie dra, terwyl die jonger geslag ietwat ontheem voorgekom het en nie presies geweet het waar hulle inpas nie.

Prof Simmonds self het gevoel sy word eenkant toe geskuif wanneer sy die dieper verhale van haar portuurgroep probeer verstaan. Sy het dikwels gevoel dat haar swart portuurgroep glo dat hulle hulle voorouers sou verraai as hulle met wittes verenig. Ander het skuldig gevoel omdat hulle geleenthede kry terwyl hulle genote min hoop het en

sukkel om te oorleef. Alle witmense is sonder uitsondering as bevoorreg beskou. Haar swart portuurgroep wou haar nie binnelaat nie, en haar wit portuurgroep het weerstand teen die hindernisse van ras gebied. Op daardie tydstip het die akademie ’n platform gebied waar prof Simmonds vrae kon vra en die diskoers van menseregte kon aanleer.

Een manier om Suid-Afrika se diskriminerende verlede te transformeer, is om dit in menseregte, inklusiwiteit en maatskaplike geregtigheid te anker. Onderwys was en bly waarskynlik die kragtigste instrument om die samelewing te transformeer. In die lig hiervan het Suid-Afrika ’n eiesoortige benadering gevolg tot die ontwerp van die kurrikulum en die insluiting van ’n kultuur van menseregte daarin.

Die Departement van Onderwys het aangekondig dat menseregte in die kurrikulum gevier word, maar erken dat hierdie regte as ’n konsep dikwels verkeerd verstaan word. Kort ná die implementering van Kurrikulum 2005 het navorsing getoon dat ’n groot persentasie van onderwysers glo dat die uitleef van menseregte as sentraal tot hulle onderrigpraktyke en inhoud tot probleme in die klaskamer lei.

Die destydse Minister van Onderwys, prof Kader Asmal, het geredeneer dat menseregtewaardes as gevolg van die morele aard daarvan nie bloot deur onderwys uitgeoefen kon word nie. Hy het gevoel dat hierdie waardes eerder gedebatteer, onderhandel, opgebou, aangepas en verdien moet word as ’n proses en nie as ’n eindproduk nie.

Prof Simmonds se navorsing beeld menseregte as dikwels instrumentalisties en regterlik uit. Volgens prof Simmonds word menseregte gebruik om die verskil tussen reg en verkeerd te onderrig, terwyl die jeug leer waarop hulle geregtig is en watter verantwoordelikhede met hierdie regte gepaardgaan. Die realiteit is dat menseregte deur verskillende ouderdomsgroepe op verskillende maniere waargeneem word.

As gevolg van die onvermoë van kurrikuluminhoud en onderwysers om etiese teenstrydighede in die klaskamer te hanteer, ervaar laerskoolleerders dit as abstrak en verwyderd van hulle alledaagse lewe. Die kurrikulum prioritiseer menseregte-ongeregtighede en diskriminasie vir hoërskoolleerders deur ongelykhede te beklemtoon wat in die samelewing voorkom, byvoorbeeld geslagsgebaseerde geweld, rasse-ongelykheid, xenofobie en politieke oneerlikheid. Onder universiteitstudente kan menseregte tweeledigheid skep wat verdeling ten opsigte van ras, geslag en klas onder sommige groepe in die samelewing versterk. In die lig van al bogenoemde was prof Simmonds verplig om weer na te dink oor hoe menseregte-opvoeding in denke en in die praktyk, saam met en in die kurrikulum voorkom.

Menseregte-opvoeding kan ’n taal verskaf om die samelewing en hoe dit voortgaan om maniere te normaliseer om in die wêreld te leef en te wees, te ondersoek. Menseregte en menseregte-opvoeding in die Suid-Afrikaanse kurrikulum bly egter universalisties en humanisties as gevolg van die antroposentriese aard van kurrikulumstudies en ander humanistiese vorms van intellektuele inspanning.

Of dit bewustelik is of nie, onderwysinstellings en kurrikulums is plekke om te leer wat dit beteken om ’n mens te wees en om jongmense voor te berei om aan ’n mensgesentreerde wêreld deel te neem. Posthumanisme, wat verstaan word as ’n geleentheid vir die mensdom om homself te herontwerp, kan dus omarm word as ’n manier om menswees as die gewaande grondslag of verwagte uitkoms van onderwys te verplaas en te posisioneer. Prof Simmonds is passievol oor die verkenning van die moontlikhede van posthumanisme om menseregte-opvoeding saam met kurrikulumondersoek te herbedink. Dit is ’n vertolkende manier om die vertel, oorvertel en deel van verhale deur die lens van die kurrikulum te gebruik om veranderinge te implementeer.

Wanneer ons praktyke uitvind wat posthumanistiese teorieë in onderwys oppervlakkig gebruik, bly die begrip van die mens as ’n voldoende grondslag vir denke ongeskonde. Die uitdaging van hierdie posthumanistiese tye is om nie ons kurrikulum te gebruik vir antroposentriese en outoteliese oogmerke wat duidelike oplossings bied nie. In plaas daarvan moet ons deurlopend eksperimenteer met die moontlikhede wat setel in posthumanistiese regte as ’n vrugbare ruimte om menseregte (-opvoeding) te herkonfigureer deur subjektiwiteit en relasionaliteit te verskuif. Ons moet verken wat regte en maatskaplike geregtigheid kan word naas posthumanistiese etiek wat alle vorms van lewe as intra-aktiewe verhoudings in ag neem, en as hoopvolle en bevestigende maniere wat die wêreld in sy differensiële wording kan herkonfigureer.

....

Prof Shan Simmonds

Submitted on Fri, 11/04/2022 - 15:35