Prof Lubbe se baanbrekerswerk word internasionaal erken

In die lig van Vrouemaand wil ons sê hoe trots ons is op een van ons eie voorste vroue wat vir haar baanbrekerswerk in die reënboognasie internasionaal erken word. Prof Welma Lubbe, professor in die Skool vir Verpleegkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU), is onlangs deur die Developmental Observer, die amptelike nuusbrief van die NIDCAP Federation International, oor haar werk in ondersteunende neuro-ontwikkelingsorg vir vroeggebore babas genader.

Ondersteunende neuro-ontwikkelingsorg (NDSC) is wyd bekend, maar ’n versorgingsmodel wat in die Suid-Afrikaanse konteks gefragmenteerd geïmplementeer word. ’n Verskeidenheid navorsers van verskillende dissiplines het oor die afgelope twee dekades studies oor verskeie komponente van NDSC uitgevoer, en in haar artikel in die Developmental Observer het prof Lubbe ’n oorsig van die ontwikkeling en aanvaarding van NDSC in die Suid-Afrikaanse konteks gegee.

Terwyl sy in die neonatale intensiewesorgeenheid (NICU) gewerk het, het prof Lubbe besef dat hulle as hospitaalpersoneel die “eienaarskap” van die babas in hulle sorg aanvaar, en dat ouers nie vir hulle rol as ouers bemagtig word nie. Sy het in 2003 die ouers se behoeftes ondersoek wanneer hulle babas in Suid-Afrika in die NICU opgeneem word, met die doel om ’n vroeë intervensieprogram te ontwikkel om die rol van die ouers te herstel wanneer hulle babas in die NICU opgeneem word.  

“Nadat ek my meestersgraad voltooi het, het ek die eerste Suid-Afrikaanse bewysgebaseerde webwerf vir ouers met voortydse babas in die NICU ontwikkel: www.littlesteps.co.za. Die idee was dat ons ’n inligtingsplatform kan verskaf waar inligting vinnig bygewerk kan word,” sê prof Lubbe in die artikel.

“Ek glo dat ouers in elke hospitaal toegang tot inligting oor hulle premmie se ontwikkeling en versorging in ’n gestruktureerde formaat behoort te hê, dus het dit na ’n oplossing gelyk om nog aanbieders van die werkswinkel oor ouerskap op te lei,” skryf sy in die artikel.

In ’n poging om die mees gebruikersvriendelike hulpbronne aan ouers beskikbaar te stel, het prof Lubbe die volkleur- geïllustreerde boek, Prematurity – Adjusting your dream, gepubliseer, wat ouers maklik in die hande kon kry en gebruik terwyl hulle tyd in die NICU saam met hulle baba deurbring. “Dit het sedertdien bewys gelewer dat dit ’n waardevolle hulpbron vir ouers en professionele persone is wat met premmies werk, en ek het terugvoer ontvang dat dit regtig vir ouers deur hulle NICU-reis gedra het – terugvoer waarvoor ek baie dankbaar is. Die tweede uitgawe van die boek is tans in sy voordrukformaat en sal gedurende 2021 beskikbaar wees.”

Vir ouers in die Suid-Afrikaanse konteks is daar ’n aantal Facebook-portuurondersteuningsgroepe beskikbaar, soos Neonatal Buddies, LittleLittlePrem, Parents of premature babies – Cape Town, om maar net ’n paar te noem. Daarbenewens is daar die Little Steps aanlyn werkswinkel vir ouers, asook werkswinkels oor premmie-ouerskap wat hulle persoonlik by geselekteerde hospitale kan bywoon.

Volgens prof Lubbe is “die implementering van NDSC in ’n land soos Suid-Afrika, wat so uiteenlopend is ten opsigte van hulpbronne en ligging, ’n uitdagende onderneming. Met gesondheidsorgkundiges wat die beste belange van hierdie klein pasiëntjies en hulle ouers op die hart dra, kan onverwagte en invloedryke veranderinge egter regoor die land gesien word.”

Ons is geweldig trots om haar in ons span te hê en dankbaar dat sy steeds daarna streef om haar kundigheid en hulpbronne te deel om die lewens van premmies en hulle ouers te verbeter.

Welma Lubbe

Prof Welma Lubbe

Submitted on Fri, 08/20/2021 - 08:36