Prof Ian Rothman tot die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika (ASSAf) verkies

Hy is bekend vir sy omvattende kundigheid en talle navorsingsuitsette. Nou bevind prof Ian Rothman, direkteur van die Optentia-navorsingseenheid aan die Noordwes-Universiteit (NWU), hom weer eens in gesiene geselskap ná sy verkiesing as ’n lid van die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika (ASSAf).

ASSAf het in 1996 tot stand gekom en verteenwoordig Suid-Afrika in die internasionale gemeenskap van wetenskapakademies.

Prof Rothman was in Taiwan, waar hy ’n hoofrede gelewer het, en het sy blydskap uitgespreek oor sy verkiesing tot ASSAf.

“Ek is geëerd om as ASSAf-lid verkies te word. Vir sommige mense is lidmaatskap van ASSAf ’n onderskrywing van hulle wetenskaplike prestasies. Vir my weerspieël die lidmaatskap my liefde vir en toewyding aan navorsing. Ek was bevoorreg om ander ASSAf-lede te ontmoet toe ek my sertifikaat ontvang het. Ek het gemaklik gevoel tussen kollegas van verskeie ander universiteite en van uiteenlopende dissiplines. Ek het geen arrogansie by die geleentheid ervaar nie. Die nederigheid van topnavorsers in Suid-Afrika het my laat voel dat dit is waar ek behoort,” sê prof Rothman.

“ASSAf verskaf geleenthede vir netwerking en interdissiplinêre samewerking met van die beste wetenskaplikes in ons land, wat verskillende universiteite verteenwoordig. As ’n ASSAf-lid wil ek die wetenskap en die belangrikheid daarvan bepleit, aan beleidsbesprekings deelneem en besluitnemingsprosesse beïnvloed wat wetenskaplike vooruitgang raak en vir die samelewing tot voordeel is. Dit is vir my belangrik om my kennis en kundigheid te gebruik om jong navorsers te inspireer, en ASSAf-lidmaatskap sal geleenthede vir mentorskap in hierdie verband moontlik maak. Ek glo dus dat my verkiesing tot ASSAf beduidende voordele vir my en vir ander inhou,” het hy afgesluit.

Dit is maar net nog ’n tree in prof Rothman se strewe om tot voordeel van alle Suid-Afrikaners navorsing te doen wat ’n impak maak.

....

Prof Ian Rothman

Submitted on Fri, 12/01/2023 - 10:23