Selfgerigte leer kan die leerproses aangenamer maak en studente in staat stel om die leerervaring te verpersoonlik, wat bemagtig en motiverend is.
Prof Elsa Mentz, direkteur van die Navorsingseenheid vir Selfgerigte Leer van die Noordwes-Universiteit (NWU), is ʼn ware kampvegter vir selfgerigte leer in hoër- en skoolonderwys. Sy glo vas dat dit studente nie net in staat stel om verantwoordelikheid vir hul eie leer te neem nie, maar hulle ook toerus met die nodige vaardighede vir sowel die 21ste eeu as die 4de Nywerheidsomwenteling.
Haar toewyding en kundigheid het haar die Lewenslange Bydrae in die Bevordering van Selfgerigte Leer in Praktyk, Teorie en Navorsing-toekenning* besorg tydens die 7de Internasionale Selfgerigte Leer-konferensie op 7 November.
Die NWU se Navorsingseenheid vir Selfgerigte Leer het onder haar visioenêre leierskap ʼn toonaangewende entiteit geword wat standaarde vir uitnemendheid in navorsing stel.
Dit is nie haar eerste toekenning vir haar impakvolle werk nie. Prof Elsa het vroeër die gesogte Malcolm Knowles-toekenning ontvang en is in kennis gestel dat sy die Onderwysvereniging van Suid-Afrika (OVSA) se Erepenning in Januarie 2025 sal ontvang vir haar bydraes op die gebied van selfgerigte leer.
Ondersteuning van medereisigers
Die toekenning wat prof Elsa in November ontvang het, is vir haar ʼn groot eer, maar sy het ook genoem dat sy dit nie alleen sou kon doen nie. “Kollegas van die NWU en ander instansies het my hand vasgehou en my deurentyd gefokus gehou. Ek wil graag hulde bring aan elke sleutelrolspeler en kollega wat my pad gekruis het, saam met my gereis het en my as navorser gevorm het. Daar is te veel om op te noem; hulle was my mentors wat vriende geword het en my gedra het toe die pad vol slaggate en onverwagte uitdagings was. Hulle het in my geglo en my passie gedeel.”
Op ʼn persoonlike noot sê sy dat haar man, Kobus, en haar drie kinders haar altyd ondersteun het.
“Laastens Soli deo Gloria – aan God al die eer!”
"Haar verbintenis tot die bevordering van selfgerigte leer, saam met haar toewyding tot die professionele groei van nagraadse studente en akademiese personeel, maak haar ʼn werklik verdienstelike ontvanger van hierdie toekenning," sê haar kollega, prof Josef de Beer.
Selfgerigte leer verbeter leerervarings
“Wanneer leerders beheer oor hul leer het, moet hulle hul eie leerbehoeftes identifiseer, hul eie leerdoelwitte stel, hul eie besluite neem oor hoe om die doelwitte te bereik, en hul eie vordering evalueer,” sê prof Elsa. "Gevolglik bou dit selfvertroue en versterk dit kritiese denkvaardighede, en leerders word meer gemotiveerd en kreatief, wat die leerervaring meer betekenisvol maak en dikwels tot innoverende probleemoplossing lei.”
Prof Elsa sê dit is hoekom sy haar loopbaan daaraan gewy het om selfgerigte leer te bevorder. “Dit was sedert 2010 ʼn stryd in ons fakulteit om ʼn fokus vir ons navorsing te vestig. Dit het in 2014 verander toe die NWU goedkeuring verleen het vir die Navorsingsfokusarea vir Selfgerigte Leer.” Die Fakulteit Opvoedkunde het ook selfgerigte leer as ʼn strategiese prioriteit vir onderrig en leer goedgekeur, en in 2017 het die NWU selfgerigte leer by die formele Onderrig-Leer-plan as ʼn strategiese prioriteit ingesluit.
“Dit was een van die mylpale op my SGL-reis! In 2020 is ons opgegradeer na ʼn navorsingseenheid en het ons van agt navorsers in 2013 tot die huidige 70 navorsers gegroei. Wat ons toe besef het, en dit is vandag steeds die geval – as jy wil bydra tot uitnemendheid in onderrig- en leernavorsing, sal jou navorsing ook moet bydra tot selfgerigte leer, wat ʼn integrale deel van onderrig en leer in die 21ste eeu is,” sluit sy af.
*Meer oor die toekenning
Prof Elsa is slegs die tweede ontvanger van die Lewenslange Bydrae in die Bevordering van Selfgerigte Leer in Praktyk, Teorie en Navorsing-toekenning. Die eerste ontvanger was die radio-omroeper Johan van Lill van Radio Sonder Grense (RSG) in 2021.
Die toekenning, wat deur die NWU se Navorsingseenheid vir Selfgerigte Leer ingestel is, was aanvanklik slegs vir eksterne ontvangers geoormerk om sodoende die bevordering van selfgerigte leer buite die NWU te motiveer. Die Selfgerigte Leer-dagbestuur het besluit om die aanvanklike besluit om te keer en ook personeel in te sluit wat verbind is tot selfgerigte leer.
Prof Elsa Mentz, direkteur van die NWU se Navorsingseenheid vir Selfgerigte Leer, ontvang die toekenning vir haar lewenslange verbintenis tot die bevordering van selfgerigte leer. Saam met haar is Dr Sukie van Zyl.