Prof Bismark Tyobeka aan die hoof van USAf se Befondsingstrategiegroep

Universiteite Suid-Afrika (USAf) het die hoof en visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), prof Bismark Tyobeka, as voorsitter van sy Befondsingstrategiegroep aangewys. Hy sal ook as lid van USAf se uitvoerende komitee (ExCo) dien.

Die aanstelling is onmiddellik van krag, en prof Tyobeka sal hierdie posisie tot 31 Desember 2025 beklee.

Die Befondsingstrategiegroep verleen strategiese rigting aan die raad en ExCo van USAf oor strategiese befondsingsake en gee ook aan beleidsake aandag. Die Befondsingstrategiegroep adviseer ook die USAf-raad oor projekte en die implementering van strategieë wat met die befondsing vir hoër onderwys verband hou – ’n deurslaggewende rol in die lig van die huidige uitdagende finansiële omstandighede wat Suid-Afrikaanse universiteite in die gesig staar.

“Ek waardeer dit dat die USAf-raad hulle vertroue in my stel en op my staatmaak.  Ek is waarlik geëerd om vir hierdie betekenisvolle rol gekies te word. Ek is opgewonde om ’n bydrae tot USAf se missie en doelwitte te kan lewer. Ek sien daarna uit om nou saam met die hele USAf-gemeenskap te werk om langtermyn- volhoubare befondsingsoplossings vir die sektor te vind,” sê prof Tyobeka.

Dr Phethiwe Matutu, hoof- uitvoerende beampte van USAf, het prof Tyobeka namens die raad gelukgewens. Sy het prof Tyobeka bedank vir sy verbintenis om USAf te dien en gesê dat sy daarna uitsien om saam met hom te werk.

Meer oor USAf

USAf is ’n sambreelliggaam vir die 26 openbare universiteite in Suid-Afrika. Dit bevorder en fasiliteer ’n optimale omgewing wat vir universiteite bevorderlik is om doeltreffend en maksimaal te funksioneer om ’n bydrae tot die maatskaplike, kulturele en ekonomiese bevordering van Suid-Afrika en sy mense te lewer.

Die missie van hierdie liggaam is om sy vermoë, volhoubaarheid en strukturele vorm te versterk om verskeie van Suid-Afrika se uitdagings in hoër onderwys, soos studentetoegang, sukses en die ontwikkeling van nuwe kohorte van organies-betrokke gegradueerdes, te hanteer. USAf streef verder daarna om die rol van die sektor te versterk in die verdieping van demokrasie en maatskaplike kohesie, en om die vermoë van die plaaslike hoëronderwysstelsel as ’n intern-mededingende stelsel te bou, en om onder andere mense en maatskaplike ontwikkelings doeltreffend deur sy kennisprojek te betrek.

USAf ontplooi tans ’n drievoudige strategiese fokus op studente, volhoubaarheid en betrokkenheid.

Om meer oor USAf en sy werk uit te vind, besoek Universities South Africa | USAf.

Prof Bismark

Prof Bismark Tyobeka

Submitted on Thu, 06/29/2023 - 19:08