Prof Ankebé Kruger – spansielkundige vir die SA studentespan by die Wêreld Universiteitespele

Die Fakulteit Gesondheidswetenskappe by die Noordwes-Universiteit (NWU) is ongelooflik trots op prof Ankebé Kruger, wat aangestel is as die Suid-Afrikaanse studentespan se spansielkundige vir die Wêreld Universiteitespele (World University Games)wat in Julie in Chengdu, China plaasvind. Hierdie noemenswaardige rol spreek boekdele ten opsigte van prof Kruger se vermoëns as sportsielkundige en haar merkwaardige prestasierekord wat betref die doeltreffende herstel en bewaring van die geestesgesondheid en welstand van mededingende sportmanne en ‑vroue regoor alle dissiplines.

Toe sy uitgevra is oor haar aspirasies toe sy jare gelede besluit het om die gebied van sportsielkunde te betree, het prof Kruger gesê:  “My droom was om as sielkundige te kwalifiseer en dan by sport op universiteitsvlak betrokke te raak. Ek is dankbaar dat dit ’n werklikheid geword het. Om as spansielkundige vir die Suid-Afrikaanse studentespan aangestel te word, is ’n onverwagte en geweldige eer.”

Prof Kruger se loopbaanreis het met groot sukses ontvou. Nadat sy in 2006 haar PhD in Sportwetenskap behaal het, het sy ’n jaar lank waardevolle ervaring in die VK opgedoen. Sy het in 2008 as ’n dosent by die NWU se Skool vir Menslike Bewegingskunde aangesluit met die doel om Sportsielkunde as ’n vak in te bring. Sy het deur die jare geleidelik by sportspanne en individuele atlete as hulle geestelikevaardigheidsafrigter betrokke geraak. Sy was toegewy aan haar professionele vooruitgang en sy het dus in 2014 haar honneursgraad in Sielkunde, in 2015 haar meestersgraad in Voorligtingsielkunde en in 2020 haar PhD in Sielkunde verwerf. Sy is tans as senior sielkundige by die NWU se Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP) in diens, waar sy intensief op sport kan fokus.

Ten opsigte van haar aanstelling as die spansielkundige van Suid-Afrika se studentespan, verduidelik prof Kruger:  “Die bestuursafvaardiging van Universiteite Sport Suid-Afrika (USSA) het na mnr Sheldon Rostron, die NWU se direkteur van Sport, uitgereik en gevra vir ’n sielkundige om die Suid-Afrikaanse studentespan na die Wêreld Universiteitespele te vergesel. Mnr Rostron het my vir hierdie rol aanbeveel, en ek is geweldig dankbaar vir sy vertroue in my.”

In haar rol by die Wêreld Universiteitespele sal prof Kruger primêr op die beskerming van die individuele atlete/spelers en groepe se geestesgesondheid en welstand fokus. Hierdie geweldige verantwoordelikheid stem perfek ooreen met haar passie vir die geestelike bemagtiging van atlete om uitdagings te oorkom en in hulle prestasie uit te blink.

Vir prof Kruger is dit ’n onbeskryflike voorreg en die hoogtepunt van haar loopbaan tot dusver. Toe sy gevra is wat haar hoop vir die Suid-Afrikaanse studentespan is, het sy gesê: “My wens vir elke atleet of speler is om hulle allerbeste te lewer en om hulle persoonlike doelwitte te bereik, of dit nou is om ’n plek op die podium te kry of nie. Bowenal wil ek hê dat hulle elke oomblik daarvan moet geniet.”

Hierdie geleentheid is beslis ’n getuienis van prof Kruger se kundigheid en toewyding aan sportsielkunde. Die Fakulteit Gesondheidswetenskappe wens haar geluk met hierdie prestasie en wens haar en die Suid-Afrikaanse studentespan alles van die beste by die naderende Wêreld Universiteitespele toe.

....

Prof Ankebé Kruger

Submitted on Tue, 06/27/2023 - 08:23