Prof Alistair Mokoena: belegging in goeie opvoeding is die sleutel

Prof Alistair Mokoena, Google Suid-Afrika se direkteur vir ons land, het beloof om vanaf 2024 elke jaar R50 000 aan die Noordwes-Universiteit (NWU) te skenk. Volgens prof Mokoena sal die bedrag van die befondsing in die Dr Alistair Mokoena Education Fund belê word en gebruik word om enige student wat finansiële hulp nodig het, te ondersteun.

Prof Mokoena glo dat ’n bydrae vir die bevordering van kennis en innovasie kan help om die opvoedkundige ervaring van studente te verryk – tot buite die klaskameromgewing.

“Gebrek aan toegang tot onderwys is een van Afrika se vernaamste uitdagings, en Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Om armoede, honger en ongelykheid in ons samelewing te verlig, moet ons in opvoeding van ’n hoogstaande gehalte belê,” sê hy.

Die ontvanger vir 2023 van die Business Leadership-toekenning van die NWU Alumni Uitnemendheidstoekennings sê dit is die plig van die bevoorregtes om diegene in nood te help.

“Die Dr Alistair Mokoena Education Fund is deur Lukas 12 vers 48 geïnspireer, wat sê ‘van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word’,” verduidelik prof Mokoena. Hy het bygevoeg: “Kom ons gee die gawe van opvoeding aan die jeug van ons nasie. Dit is die beste voorbereiding vir die wêreld wat op hulle wag.”

 

Alistair Mokoena

Prof Alistair Mokoena is ’n buitengewone professor in praktyk aan die NWU Besigheidskool en het in 2019 ’n bedryfstoekenning as Global Brands se beste reklame- en bemarkingsleier in Suid-Afrika ontvang. Hy was ook ’n finalis in die topvier van die Institute for Marketing Management-uitnemendheidstoekennings in 2023.  

Submitted on Thu, 04/04/2024 - 09:14