Pre-TSD en die Covid-19-onsekerheid

Die impak van die Covid-19-epidemie op ons geestesgesondheid kan nie onderskat word nie. Vanuit ’n Suid-Afrikaanse perspektief het maande van harde inperking die manier verander waarop ons leef, die manier waarop ons werk en selfs die manier hoe ons funksioneer. Op sielkundige vlak kon ons nie heelhuids daarvan afkom nie. ’n Nuwe studie deur Afriforte en die Workwell navorsingseenheid by die Noordwes-Universiteit (NWU), in samewerking met die Suid-Afrikaanse Depressie en Angsgroep (SADAG) en Mindful Revolution, het die psigologiese effek van die inperking ondersoek.

’n Opname wat onder 1 656 werknemers gedoen is, het bevind dat 46% van die respondente tydens die epidemie baie hoë vlakke van sielkundige angs ervaar. Dit kan toegeskryf word aan die sosiale distansiëringsmaatreëls, die ontwrigting van roetines en gewone aktiwiteite, eensaamheid, depressie en selfs middelmisbruik.

Dit is belangrik om ook daarop te let dat die SADAG-hulplyn ’n geweldige toename beleef het in mense wat hulp soek. Volgens prof Ina Rothmann van Afriforte kan ’n klomp simptome wat tydens die epidemie en die inperking ervaar word, aan pre-traumatiese stresversteuring (Pre-TSD) toegeskryf word.

 “Pre-TSD is ’n sindroom waar onwillekeurige indringende beelde en toekomsflitse van kwellende gebeure tydens groot ontwrigtings soos Covid-19 ervaar word,” verduidelik sy.

Simptome van Pre-TSD sluit onder andere in gemoedskommelinge, ’n kort humeur, vergeetagtigheid, deurlopende bekommernis, onsekerheid, verlies aan objektiwiteit en ’n onvermoë om te fokus of te konsentreer.

Wat Pre-TSV van die meer bekende Posttraumatiese Stresversteuring (PTSV) onderskei, is dat Pre-TSV tydens ʼn traumatiese of ontwrigtende gebeurtenis plaasvind omdat individue trauma antisipeer en gevolglik ‘vorentoeflitse’ van traumatiese gebeure ervaar. PTSV volg weer op ʼn traumatiese gebeurtenis en gaan gepaard met terugflitse wat verband hou met die traumatiese gebeurtenis.

Alhoewel Pre-TSV nie ʼn erkende psigiatriese diagnose is nie, is dit gebaseer op wetenskaplike kennis voortspruitend uit navorsing op soldate, wat bevind het dat Pre-TSV die ontwikkeling van toekomstige PTSV en depressiewe versteurings voorspel. ʼn Beter begrip van pre-TSD kan 'n sleutelrol speel in die hantering van geestesgesondheidskwessies wat met die COVID-19-epidemie verband hou.

Prof Rothmann wys ook daarop dat Pre-TSV tot verskillende fisieke simptome kan aanleiding gee.

“Gereelde hoofpyn, naarheid, sooibrand, eetprobleme, hartkloppings, slaapprobleme en spierpyne is alles simptome wat individue laat voel dat hulle op ’n sielkundige sowel as op ’n fisieke vlak deurlopend stres ervaar en oor die algemeen nie gesond voel nie.”

“Kortom, die erns van die uitwerking van Pre-TSD op ons welstand tydens hierdie ongeëwenaarde tydperk van onrus moet hanteer word indien die samelewing na normaal moet terugkeer.“


Prof Ina Rothmann.

Submitted on Wed, 10/21/2020 - 14:08