POLOKELO open nuwe deure vir Afrikatale

Opvoeding hef op, dit verryk lewens, en dit skep geleenthede. Taal behoort nie ’n hindernis te wees wanneer daar toegang verkry moet word tot onderwys van die hoogste gehalte nie, en hier speel die POLOKELO-projek van die Taaldirektoraat van die Noordwes-Universiteit (NWU) ’n leidende rol in die bevordering van Afrikatale in akademiese kringe.

Die POLOKELO-projek is ’n taal- en kultuurinisiatief wat daarop fokus om die gebruik van Suider-Afrikaanse inheemse tale te bevorder en nuwe lewe te gee. Dit het in Suid-Afrika ontstaan en die naam van die projek, POLOKELO, is afgelei uit Sesotho en beteken “bewaarplek” of “stoorplek”, wat die missie daarvan weerspieël om die streek se ryk taalkundige erfenis te bewaar en te bevorder. POLOKELO spruit voort uit die BAQONDE-projek, wat ’n inisiatief is wat deur die Europese Unie befonds word en ten doel het om meertaligheid te bevorder en die gebruik van Afrikatale in Suid-Afrikaanse instellings van hoër onderwys moontlik te maak.

Vier Suid-Afrikaanse universiteite, die NWU, die Universiteit van KwaZulu-Natal, die Universiteit van Wes-Kaapland en Rhodes Universiteit, asook drie Europese universiteite – Trinity College in Dublin, die Universiteit van Groningen en die Universiteit van Salamanca (wat ook die projekleier van BAQONDE is) – het ’n realistiese program opgestel om ’n doeltreffende strategie te skep, te ontwikkel en in stand te hou om die implementering van die onlangs goedgekeurde Taalbeleidsraamwerke vir Openbare Hoëronderwysinstellings (HOI’s) in Suid-Afrika te verseker. Die strategie prioritiseer die ontwikkeling van Afrikatale as medium van onderrig.

Die doel van POLOKELO is om kapasiteit onder dosente en studente in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel te bou. Kerninisiatiewe van die projekvennote sluit die ontstaan in van ’n interinstitusionele netwerk van Afrikataal-ontwikkelingseenhede (ATOE’s) en die progressiewe skepping van multidissiplinêre materiaal in Suid-Afrikaanse tale. Hierdie inisiatiewe sal na ander HOI’s uitgebrei word, en uitreikaktiwiteite op primêre en sekondêre skoolvlak moet uiteindelik sektorwye sinergieë rondom tale deur kapasiteitsbou vir hulle onderrig, hulle intellektualisering en hulle aanvaarding en gebruik skep.

“POLOKELO is ’n stoorplek vir terme wat geskep is om seker te maak dat studente en navorsers die taalhulpbronne beskikbaar het om hulle doelwitte te bereik. Wat POLOKELO so doeltreffend maak, is dat dit ’n oopbronprojek is wat studente sal help wanneer hulle na ’n spesifieke term in ’n bepaalde taal soek. Hulle kan maklik by die stoorplek inskakel en kry wat hulle nodig het,” verduidelik dr Kea Seshoka, direkteur van die NWU Taaldirektoraat.

“Die wonderlikste ding is dat ons ook video’s met Suid-Afrikaanse gebaretaal daar het. POLOKELO huisves ’n magdom hulpbronne. As Suid-Afrikaners is meertaligheid deel van ons daaglikse lewens en ons moet aanhou om mekaar aan te moedig om ons onderskeie tale te verstaan en te waardeer.”

 

 

Submitted on Fri, 09/06/2024 - 09:19