PMR.africa loof NWU vir uitnemendheid in hoër onderwys

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het dit weer gedoen! Dié kampus het vir die agste agtereenvolgende jaar die Professional Management Review (PMR) se gesogte Diamond Arrow-toekenning vir uitnemendheid in hoër onderwys in die Sedibeng-distrik ontvang.

Die toekenning is by die PMR.africa-sakeontbyt in Vereeniging oorhandig en belangrike besluitnemers, sakelui, lede van die regering, en akademici van die Sedibeng-streek het vir die toekennings byeengekom.

Die hoofspreker was raadslid BM Baloyi, uitvoerende burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit. Die doel van die jaarlikse toekenningsgeleentheid is om lede vir hul toegewydheid tot die ekonomiese groei en ontwikkeling van die streek te beloon.

Raadslid Boloyi het as gasspreker opgetree en het in sy toespraak gefokus op die belangrikheid van geloofwaardige leierskap. Volgens raadslid Boloyi moet leiers in vandag se snel veranderende wêreld met oortuiging optree. Hy het voorts die ontvangers van toekennings geloof vir die rol wat hulle in die gemeenskap speel en almal aangemoedig om voort te gaan om die streek op koers na die vierde industriële revolusie te hou. “As ‘n eenheid is dit binne ons vermoë om die toekoms van die streek, die provinsie en uiteindelik ook die land positief te verander,” het raadslid Boloyi gesê.

Die kampus word gereeld in die PMR.africa-opname gemeld en het al verskeie keer toekennings huis toe gebring. Die Sedibeng-streek sluit die munisipaliteite van Emfuleni, Lesedi en Midvaal in. Die streek is as groeipunt en potensiële beleggingsarea vir internasionale en plaaslike ontwikkelaars en beleggers geïdentifiseer.

Meer oor PMR

PMR.africa verskaf graderings en identifiseer sterk punte en swakhede terwyl hulle maatstawwe vir sakeondernemings, die regering, professionele lui, opvoeders en die arbeidsektor produseer.  Hierdie unieke strategiese intelligensie, wat van groot waarde is vir ontleders, beleggers, finansiers en voornemende kliënte, word aan topgegradeerde maatskappye in verskillende streke in Suid-Afrika aangebied. Arrow-toekennings word in die volgende kategorieë gemaak: diamant (wat die hoogste gradering verteenwoordig), goud, silwer en brons​

Die afvaardiging van die NWU wat die geleentheid bygewoon het, is van agter prof Loraine Boitumelo Mzini en prof Hans van Deventer. In die middel is dr Rhelda Krugel en dr Magda Kloppers. Voor van links is Suretha van Wyk, prof David Kubayi en Lize Bierman.

Submitted on Mon, 03/18/2019 - 15:14