Daar word geskat dat 10 miljoen klein stukkies plastiek op die grasperk voor die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Regte in Potchefstroom lê, en die grond op die Fanie du Toit Sportterrein het ook hoë vlakke van plastiekbesoedeling. Dit plaas ’n demper op die vierings wat dikwels in hierdie ruimtes gehou word, en waar glinsterstofklappers en vuurwerke ’n blywende nalatenskap agterlaat – ongelukkig nie ’n goeie een nie.
’n Span van die navorsingseenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur het ter voorbereiding vir Wêreldomgewingsdag op 24 Junie ’n studie op drie verskillende plekke uitgevoer om plastiekdeeltjies en ander vuurwerke wat by vierings gebruik word, te identifiseer en te kwantifiseer. Die bevindings bevestig hoe noodsaaklik dit is dat die NWU plastiekbesoedeling op sy terrein verminder en in alle erns reageer op die oproep wat verlede jaar deur prof Bismark Tyobeka, visekanselier, gemaak is om plastiekbesoedeling hok te slaan en die gebruik van plastiek te beperk.
Die navorsingspan het uit drie studente, Raeesa Bhikhoo, Lohan Bredenhann en Francois Bothma, en die studieleiers prof Henk Bouwman en prof Carlos Bezuidenhout bestaan. Hulle het grondmonsters geneem by die terreine waar die klappers dikwels gebruik word om vas te stel hoeveel plastiekdeeltjies in die grond is, hoe doeltreffend die plastiekklappers opgeruim word, en om moontlike intervensies te identifiseer en dit te kommunikeer sodat plastiekbesoedeling op die NWU-terrein verminder kan word.
Prof Bouwman sê onvoldoende afvalbestuurpraktyke in natuurlike omgewings het veroorsaak dat plastiek gereeld in stede hulle verskyning maak. “Plastiek word baie dikwels vir verpakking en klere gebruik, asook vir dekoratiewe doeleindes soos die confetti in seremoniële confettiklappers, en weerkaatsende plastiekstroke wat by vuurwerke tydens sportgeleenthede gebruik word.”
As gevolg van die duursaamheid van plastiek bly dit baie lank in die omgewing en het ’n negatiewe uitwerking op die omgewing en die organismes wat daar leef. Dit is ook potensieel skadelik vir die mens se gesondheid.
“Kontak met/of die inname van plastiek kan ’n vals gevoel van versadiging, inwendige blokkasies, inkorting van voortplanting en sterftes by organismes veroorsaak,” sê prof Bouwman. “Beide confetti/glinsterstofklappers en vuurwerke gebruik pirotegniek, wat ook inherente gesondheidsrisiko’s, soos oogskade, velskade, en gehoorskade tot gevolg kan hê.”
Wat die studie getoon het
Monsters is op drie verskillende terreine op die Potchefstroomkampus by die NWU geneem.
“Twee van die liggings is gekies op grond van die gebruik van glinsterstofklappers en vuurwerke tydens seremonies en sportgebeurtenisse, en die derde terrein was die NWU Botaniese Tuin, ’n kontroleterrein waar klappers en vuurwerke nie gebruik word nie,” sê prof Bouwman.
Ses grondmonsters per terrein is met behulp van ’n kernmonsternemer geneem. Die grondmonsters is met behulp van twee lae siwwe gesif. Die boonste sif se maasgrootte was 1,25 mm en die tweede sif s’n 500 µm. Groter stukkies plastiek is met die hand uit die grond gehaal.
“Die gesifte grond van die 500 µm-staalsif is toe met ’n digtheidskeidingstegniek geskei, aangesien plastiek gewoonlik ligter is as water en dryf. Die stukkies kan dan versamel en getel word,” sê hy. Digtheidskeiding behels dat jodiumsout by water gevoeg word. Jodiumsout is swaar en maak die digtheid van die oplossing swaarder as dié van water of die meeste plastiekstowwe. Die grond word dan in die oplossing ingeroer en gelaat dat die gronddeeltjies 24 uur lank uitsak. Die plastiek dryf na die boonste laag. Die boonste laag wat die plastiekdeeltjies bevat, is daarna deur staalsiwwe van 25 µm-maasgrootte gefiltreer.
Die deeltjies is onder ’n mikroskoop getel, wat die studente in staat gestel het om te skat dat die grasperk voor die regsfakulteit ongeveer 10 miljoen klein stukkies plastiek bevat. Plastiekdeeltjies was ook op die sportterrein teenwoordig, asook in afloopareas, vanwaar hulle na strome, riviere, stormwaterpype en grondwater sal beweeg. Die grond van die Botaniese Tuin het baie minder plastiekdeeltjies bevat.
Die studie het getoon dat daar enorme hoeveelhede plastiek in die grond is, en het ’n basislyn vir toekomstige navorsing en intervensies verskaf om plastiekbesoedeling op die NWU-terrein te verminder. Die gebruik van confettiklappers en vuurwerke by feesvierings word genormaliseer, maar dit bly steeds ’n vorm van rommelstrooiing. Ander biovriendelike alternatiewe is moontlik, soos gedroogde blomblare, papierconfetti, of digitale effekte, hoewel hulle ook hulle eie probleme het.
Dit studie beveel intervensies aan om plastiekbesoedeling op die NWU-terrein te verminder, soos dat biovriendelike alternatiewe gebruik word, behoorlike afvalbestuurspraktyke geïmplementeer word, en dat ’n bewustheid onder studente en personeel geskep word.
Studente Lohan Bredenhann, Raeesa Bhikhoo en Francois Bothma was deel van die navorsingspan.