Suid-Afrika se verhoogde internasionale risikostatus as gevolg van plasing op die gryslys skaad ’n beleggingsprofiel wat reeds met faktore soos die negatiewe impak van aggressiewe beurtkrag, gebrek aan energiesekerheid, voortgaande rommelstatus en ander onsekerhede moet worstel.
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê in sy kommentaar oor die besluit van die Finansiële Aksie Taakmag (FATF) om Suid-Afrika op die gryslys te plaas – hoewel dit maande lank al wyd verwag word – slegte nuus is waarsonder Suid-Afrika se huidige kwesbare ekonomie kan klaarkom.
“Nog ’n rooi vlag word nou waargeneem. Om op die gryslys te wees, is nie ’n etiket wat Suid-Afrika as ‘voorkeurbeleggingsbestemming’ nou wil ontvang nie. Die klimaat van saketransaksies met Suid-Afrika sal ongetwyfeld baie nadelig beïnvloed word.”
Hy sê dat die remediërende wetgewende en ander pogings deur Suid-Afrika tot dusver om hierdie uitkoms te vermy, duidelik nie is wat die FATF verwag het nie. Finansiële misdaad en geldwassery in Suid-Afrika sal spoedig baie ernstiger aandag moet ontvang, veral in die lig daarvan dat die oorspronklike 2021-FAFT-tydlyn ’n jaar was.
“Plasing op die gryslys moet dus hoog op die agenda van die geskommelde Kabinet wees, veral op die strafregvlak, aangesien Suid-Afrika skynbaar nou ’n ‘hoëvlak- politieke verbintenis’ gemaak het om met die FATF saam te werk om geldwassery te beveg. Die vooruitsig om die FATF se besluit gou om te keer, hang dus van vroeë en tydige verdere optrede af.”
Volgens prof Parsons is die goeie nuus dat die besluit oor die gryslys – wat wyd verwag is – reeds grootliks deur die markte in berekening gebring is. ’n Bykomende negatiewe markreaksie op hierdie stadium hoef dus nie traumaties te wees nie, maar ons moet ook kyk wat die kredietgraderingsagentskappe uiteindelik daarmee gaan maak.
“Transaksiekoste van buitelandse lenings sal negatief geraak word, meer rompslomp gaan deur besighede vereis word, en sommige buitelandse beleggers kan ook ontmoedig word, aangesien die koste van die doen van sake in Suid-Afrika op die oog af gaan styg.”
Hy verduidelik dat hoewel plasing op die gryslys deel bly van die verhoogde risiko’s ten opsigte van Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsig, dit ’n minimale impak op Suid-Afrika se onmiddellike ekonomiese prestasie behoort te hê, aangesien sterker kragte tans die ekonomie in Suid-Afrika dryf.
Die voorspelde groeivooruitsigte van die bruto binnelandse produk (BBP) in die onlangse Begroting en deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) oor die volgende drie jaar is reeds noemenswaardig gesny deurdat hierdie verskeie verhoogde risiko’s in ag geneem is.
“Nietemin, die plasing op die gryslys bly ’n hoogs retrogressiewe ontwikkeling vir Suid-Afrika. Die boodskap van die FATF is duidelik: ten spyte van die ‘onvoltooide werk’, moet Suid-Afrika ’n baie groter demonstreerbare bewys lewer van sy vermoë om geldwassery, korrupsie en finansiële misdaad hok te slaan. Dit sal dan help om die beleggingsentiment oor Suid-Afrika te versterk, wat nodig is om groter arbeidsryke groei te bevorder.”