Ongeveer 80% van Suid-Afrika se bevolking is vir hulle gesondheidsorgbehoeftes van mediese plante afhanklik, en dit lei tot ’n toenemende belangstelling in die kommersialisering van plantgebaseerde geneesmiddels.
Navorsing deur Tshepiso Ndhlovu, ’n PhD-kandidaat aan die Noordwes-Universiteit (NWU), gee ons ’n kykie na die potensiaal van medisinale plante vir die velsorgmark en vir die behandeling van kindersiektes.
Die gebruik van medisinale plante vir die behandeling van kindersiektes is Tshepiso – wat met sy PhD oor die onderwerp besig is – se huidige fokus. Dit volg op sy navorsing vir sy meestersgraad, wat getoon het dat Venda-vroue in Limpopo die potensiaal het om laekoste medisinale plantgebaseerde velsorgprodukte te ontwikkel en te verkoop en sodoende hulle sosio-ekonomiese welstand te verbeter.
Maak ’n bestaan uit plante
Sy aanvanklike studie, wat hy in 2018 voltooi het, is in16 dorpies in vier munisipaliteite in die Vhembe Distriksmunisipaliteit uitgevoer. Die doel daarvan was om die gebruik van natuurlike kosmetiekware en kosmeseutiese produkte te verstaan, en om die potensiële ekonomiese impak daarvan te ondersoek.
Tshepiso het onderhoude met 79 Venda-vroue gevoer, van wie die meeste getroud is en in ’n gemiddelde huishouding met vyf gesinslede is. Die meeste van die deelnemers was nie in formele diens nie en slegs 34% van hulle het formele hoërskoolsertifikate gehad.
Die studie het 49 plantspesies van 31 families as kosmetiekware en kosmeseutiese produkte met ’n natuurlike basis geïdentifiseer. Daar is bevind dat Dicerocaryum senecioides (elandsdoring of museto), Ricinus communis (kasterolieplant of mupfure), Helinus integrifolius (seepbossie of mupupuma) en Acanthospermum hispidum (regopsterklits of tshidavhula) die plantspesies was wat die meeste deur die deelnemers gebruik is vir velverwante kwessies soos wonde, brandwonde, ’n plaasvervanger vir seep, vir herstel en om die vel te verfraai.
Volgens Tshepiso het die studie getoon dat die kruiegebaseerde kosmetiese en kosmeseutiese onderneming winsgewend is en ’n beter toekoms vir Suid-Afrika se landelike gemeenskappe kan verseker.
Met die geïdentifiseerde uitdagings soos veroudering, gebrek aan kapitaal, kennis en onderwys van die huidige kwesbare persone in die bedryf, sê hy dat hierdie gemarginaliseerde kruiegebaseerde onderneming ondersoek en as oplossing beskou moet word om die welstand van landelike Suid-Afrikaners te verbeter.
Dit sal ook help om in die toenemende vraag na kommersiële produkte met natuurlike plantgebaseerde bestanddele te voorsien.
Tshepiso ondersoek met hierdie navorsing nie net die heenkome en fisieke welstand van landelike gemeenskappe nie, hy maak ook seker dat inheemse kennis tot voordeel van almal bewaar bly.
Tshepiso Ndhlovu.