Dit is tyd om te besef en aanvaar dat ons, as ’n spesie, ’n verantwoordelikheid deel om saam te werk om al die omgewingstelsels te beveilig wat die funksionering en stand van ons planeet reguleer.
Só sê Louis Kotzé, navorsingsprofessor by die Fakulteit Regte van die Noordwes-Universiteit (NWU). Prof Kotzé het onlangs as medehoofskrywer saam met die wêreld se voorste wetenskaplike oor Aardstelsels, prof Johan Rockström, gewerk aan ’n referaat met die titel “Planetary Commons in the Anthropocene”, wat in die bekende vaktydskrif Proceedings of the National Academy of Sciences of the United States of America gepubliseer is.
Die Antroposeen-epog verwys na die tydperk in die Aarde se geskiedenis toe menslike aktiwiteit begin het om ’n beduidende impak op die planeet se geologie en ekostelsels uit te oefen.
Prof Rockström en prof Kotzé sê in hulle referaat dat die wêreldwye gemeenskapsgrond (gebiede wat nie aan een bepaalde land behoort nie) nie slegs dele van die planeet buite nasionale grense, soos die oop see of Antarktika, kan insluit nie. Dit moet ook al die omgewingstelsels insluit wat die funksionering en stand van die planeet reguleer, wat beteken dat dit alle stelsels op Aarde is waarvan ons almal afhanklik is, maak nie saak waar in die wêreld ons woon nie.
Al die kantelelemente van die Aardstelsel moet as wêreldwye gemeenskapsgrond beskou word, meen hulle. Kantelelemente is kritieke stelsels wat, indien dit verder as ’n sekere drempel verander, dit die hele planeet kan beïnvloed.
Die publikasie is die resultaat van ’n twee jaar lange navorsingprojek waarby 22 voorste internasionale navorsers betrokke was. Dit is deur prof Rockström en prof Kotzé gesamentlik geïnisieer en gelei.
Prof Rockström is die direkteur van die Potsdam Instituut vir Klimaatsimpaknavorsing (Potsdam Institute for Climate Impact Research, PIK), medevoorsitter van die Earth Commission, en professor in Aardstelselwetenskap by die Universiteit van Potsdam. Hy is in 2023 deur Time Magazine as een van die wêreld se 100 invloedrykste mense benoem.
Prof Kotzé is ’n NNS-B1-gegradeerde navorser, medevoorsitter van die wetenskaplike loodskomitee van die Earth System Governance-alliansie, en ’n leidende kundige oor omgewingsreg.
Die navorsing is gegrond op sy projek by die Navorsingsinstituut vir Volhoubaarheid by die Helmholtz-sentrum in Potsdam, Duitsland, tydens sy tyd as die Klaus Töpfer-genoot vir Volhoubaarheid.
Beskerm wêreldwye gemeenskaplike grondgebied tot almal se voordeel
Prof Rockström en prof Kotzé sê in hulle referaat dat wêreldwye gemeenskapsgrond of wêreldwye openbare goedere soos die oop see en die diep seebodem, die buitenste ruim, Antarktika en die atmosfeer deur alle state gedeel word. Dit lê buite jurisdiksiegrense en soewereine aansprake. Alle state en mense het ’n gemeenskaplike belang, veral wat die benutting van hulpbronne betref, naamlik dat dit doeltreffend binne almal se belang bewaar en bestuur moet word.
Die planetêre gemeenskapsgrond brei uit op die idee van die wêreldwye gemeenskapsgrond deur nie net geografiese streke wat wêreldwyd gedeel word by die raamwerk vir wêreldwye gemeenskapsgrond te voeg nie, maar ook kritieke biofisiese stelsels wat die veerkragtigheid en stand – en dus leefbaarheid – op Aarde reguleer.
Die gevolge van so ’n “planetêre verskuiwing” in die bestuur van wêreldwye gemeenskapsgrond is potensieel indringend, redeneer die skrywers. Om hierdie regulatoriese funksies van kritieke Aardstelsels te beveilig, is ’n uitdaging op ’n unieke planetêre skaal van bestuur, en word gekenmerk deur die behoefte aan ’n gesamentlike oplossing van wêreldomvang wat nasionale grense oorskry.
Die Aarde se kritieke stelsels is onder druk
“Stabiliteit en welvaart van nasies en ons beskawing hang af van die stabiliteit van die funksies van kritieke Aardstelsels wat buite nasionale grense funksioneer,” verduidelik prof Rockström.
“Terselfdertyd plaas mense se aktiwiteite al hoe meer druk op die planetêre grense van hierdie deurslaggewende stelsels. Van die reënwoud in die Amasone tot by Groenland se ysmassa, is daar groterwordende risiko’s dat onomkeerbare en onbeheerbare verskuiwings in die funksionering van die Aarde se stelsels aan die gang gesit kan word. Namate hierdie verskuiwings mense regoor die wêreld raak, redeneer ons dat kantelelemente beskou moet word as planetêre gemeenskapsgrond wat aan die wêreld toevertrou word, en dat daar gevolglik ’n behoefte aan gesamentlike beheer is.”
Prof Kotzé het afgesluit deur te sê: “Die Aarde se regulatoriese stelsels word nou op ongeëwenaarde vlakke deur menslike aktiwiteite onder druk geplaas. Ons bestaande wêreldwye omgewingsreg- en beheerraamwerk is nie in staat om die planetêre krisis te hanteer nie en verhoed ons om planetêre grense oor te steek. Dit is waarom ons dringend planetêre gemeenskapsgrond as ’n nuwe regs- en beheerbenadering nodig het, wat reguleringsfunksies vir kritieke Aardstelsels meer doeltreffend kan beveilig.
Prof Louis Kotzé
Prof Johan Rockström