Plaaslike navorser gaan met Cambridge Universiteit saamwerk

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is baie trots op die kaliber van sy akademici. Die kundige werk van die NWU se navorsers en dosente word dikwels internasionaal erken, wat lei tot geleenthede om met van die beroemdste en mees hoogaangeskrewe universiteite in die wêreld saam te werk.

Prof Paul Smit, medeprofessor in en programleier vir Arbeidsverhoudingebestuur by die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, is genooi om as besoekende genoot met die Centre for Business Research (CBR) by die Cambridge Universiteit in die Verenigde Koninkryk saam te werk.

Die besoek sal prof Paul in staat stel om navorsing oor die gebruik van metrieke in arbeidsregnavorsing te doen. Dit sluit in dat daar met hulle arbeidsindeks-datastel (CBR-LRI-datastel) geskakel en ’n telkaart vir maatskaplike geregtigheid ontwikkel word.

Prof Paul sal die Cambridge Universiteit van Junie tot Augustus 2024 besoek. “Om enige navorsing by Cambridge te onderneem, is eenvoudig wonderlik.” Hy sê om as besoekende genoot uitgenooi te word, is die hoogtepunt van sy akademiese loopbaan. “Om hierdie soort navorsing by een van die heel beste universiteite ter wêreld uit te voer, en die feit dat die NWU daarby betrokke is, is ’n droom.”

Hy glo ook dat dit erkenning verleen aan die NWU as een van die top-10 universiteite in Afrika.

Prof Paul en prof Simon Deakin, direkteur van die Centre for Business Research, was oor die afgelope paar jaar met mekaar in kontak by konferensies en seminare en hulle het die moontlikheid van ’n gesamentlike navorsingsprojek tussen die NWU en Cambridge Universiteit bespreek. Dit het nou gebeur.

“Dit is wonderlike en opwindende nuus. Dit is inderdaad ’n erkenning van prof Paul se kundigheid, asook ’n pluimpie vir die NWU en alles wat ons het om aan te bied. Die uitnodiging is werklik ’n groot prestasie en daar is goeie rede om dit te vier,” sê prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU.

Paul Smit

Prof Paul Smit, programleier vir Arbeidsverhoudingebestuur, is opgewonde om sy navorsing na die Cambridge Universiteit te neem. Hy sê die uitnodiging om ’n besoekende genoot te wees, maak meer deure vir samewerking oop.

Submitted on Thu, 07/20/2023 - 09:43