Plaaslike koerant se verskuiwing na sosiale media blyk effektief te wees

Fortune Tsutsa se meestersgraadnavorsing oor die gebruik van sosiale media vir die verkryging van nuus en vir verslaggewing deur die Potchefstroom Herald is ’n voorbeeld van die mag van moderne tegnologie in joernalistiek.

Digitale nuus het ’n integrale deel van die Suid-Afrikaanse nuuslandskap geword, met die meeste Suid-Afrikaners wat nou hulle nuus op verskillende sosialemediaplatforms kry.

Fortune – wat onlangs sy meestersgraad in kommunikasie aan die NWU verwerf het –  was as ’n student nuuskierig oor hierdie verskynsel en het begin navorsing doen oor die verskuiwing van tradisionele na digitale media.

Die titel van sy verhandeling was “Use of social media by Potchefstroom Herald for newsgathering and dissemination”.

Die Potchefstroom Herald, ’n plaaslike koerant in Noordwes, publiseer in Afrikaans en het onlangs begin om Engels by sy inhoud in te sluit. 

Die studie het ondersoek gedoen oor die manier waarop die koerant Facebook en Twitter gebruik om nuus in te samel en verslag te doen.

Fortune se studie is gegrond op twee kommunikasiewetenskapteorieë: die teorie oor die verspreiding van innovasie en die teorie oor mediakonvergensie.

Hy het ’n kwalitatiewe benadering vir sy navorsing gebruik, en data deur waarneming, ontleding van inhoud, ontleding van dokumente en ontleding van temas ingesamel.

Sy bevinding was dat die Potchefstroom Herald hoofsaaklik Facebook gebruik om plaaslike inhoud te versamel, wat as doeltreffend bewys is.

Volgens Fortune het die gebruik van Facebook as bron vir die Potchefstroom Herald ’n voordeel vir die koerant ingehou en interaksie met lesers vergemaklik. Dit het vir lesers nuwe maniere gebied om met die nuus om te gaan.

Submitted on Fri, 08/30/2024 - 10:21