Prof Raymond Parsons het tydens die vierde Pitso vir 2023 die Beleidsonsekerheidsindeks van die NWU Besigheidskool vir die tweede kwartaal bespreek. Dit het ’n insiggewende bespreking oor die implikasies daarvan vir die ekonomie aan die gang gesit. Die kundiges het na die huidige stand van die indeks gekyk en die potensiële oplossings ondersoek vir die heersende krisisse wat broodnodige ekonomiese groei verhinder.
Die Beleidsonsekerheidsindeks weerspieël die netto uitkoms van positiewe en negatiewe faktore wat beleidsonsekerheid oor ’n driemaandetydperk vorm. Prof Parsons het gesê dat die basislyn van die indeks op 50% staan, maar die tweede kwartaal se uitkoms het tot ’n verstommende 76,2% gestyg, wat die eerste kwartaal se 71,7% verbygesteek het. Dit is noemenswaardig dat dit die hoogste vlak van onsekerheid is sedert die totstandkoming van die indeks in 2016. Die negatiewe faktore oortref die positiewes ver, wat ekonomiese groei en beleggingsmoontlike aan bande lê. Terwyl wêreldwye en binnelandse faktore tot hierdie koerse bydra, is die huidige werklikheid dat binnelandse faktore die oorheersende rol speel wat die Beleidsonsekerheidsindeks verder negatief dryf.
Geopolitieke konflikte en Suid-Afrika se risiko om van AGOA verwyder te word, asook die voortslepende energiekrisis wat tot deurlopende kragonderbrekings lei, verteenwoordig die twee grootste negatiewe faktore wat beleidsonsekerheid vererger. ’n Derde bydraende faktor is die verwagting van erger-as-geprojekteerde ekonomiese prestasie in die laaste gedeelte van die jaar.
Hoewel positiewe ontwikkelings genoem kan word, soos bykomende elektrisiteitsopwekking deur die regering en tekens van potensiële samewerking tussen die openbare en privaat sektor om aandag te gee aan belangrike kwessies wat ekonomiese groei benadeel, word dit deur heersende negatiewe omstandighede oorskadu. Die goeie nuus is dat hoë vlakke van beleidsonsekerheid deur die doeltreffende en volgehoue implementering van toepaslike beleide en oplossings versag kan word.
Ons kundiges stem saam dat implementering’n vername struikelblok vir die openbare sektor bly en tot beduidende wantroue en verlies aan vertroue lei. Om hierdie kwessie op te los, behoort ’n topprioriteit te wees. ’n Kritieke bekommernis lê in die feit dat die gebrek aan vermoë van die vernaamste rolspelers van die regering waarskynlik die oorsaak van swak implementering is. Dit is ’n uitdaging wat nie oornag opgelos kan word nie.
Dit is noodsaaklik dat die openbare sektor erken dat sekere funksies beter deur samewerking met die privaat sektor uitgevoer kan word. Totdat hierdie erkenning materialiseer, gaan die huidige afwaartse trajek van noodsaaklike ekonomiese pilare soos Eskom en Transnet waarskynlik nie verander nie, wat te sê nog omgekeer word. Die belyning van die openbare en privaat sektor is noodsaaklik om onsekerheid te verlig en oplossings te implementeer wat vertroue kan inboesem.
Die NWU Besigheidskool sê baie dankie vir prof Raymond Parsons, mnr Isaah Mhlanga, mnr Thina Nodada, mnr Ryk van Niekerk en me Mmamello Matink-Ngwenya vir hulle kundige insig en uiters waardevolle perspektiewe. ’n Spesiale dankie aan mnr Van Niekerk vir sy professionele fasilitering van die bespreking. Hierdie gesprekke is noodsaaklik vir die navigering van die ingewikkelde landskap van beleidsonsekerheid.
Kyk na die hele Pitso hier: https://www.youtube.com/watch?v=Hvrs5_yaofg.