PhD-studie bevind dat sosiale entrepreneurskap ʼn ingesteldheid is

Prof Chimwenwe Chipeta se gesig het gestraal van trots toe sy vrou haar PhD in entrepreneurskap tydens die onlangse PhD-gradeplegtigheid op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark verwerf het.

Met ʼn postdoktorale navorsingsgenoot by die Universiteit van die Witwatersrand, wat getroud is met ʼn professor in korporatiewe finansies by dieselfde universiteit, kwalifiseer die Chipetas sekerlik as ʼn akademiese kragtepaar.

Die twee sê dikwels tong-in-die-kies dat daar gelukkig selde konflik is tussen ʼn vrou wat navorsing doen oor maniere om geld te maak en haar man se navorsing oor hoe om daardie geld in die bank te hou. Die egpaar het drie kinders – Jemima (11), Zoe (8) en Jeremy (5) – by wie hulle die waarde van geld wil vestig: om dit eerlik te verdien en op verstandige wyse te spaar.

Eleanor sê sy het nog altyd ʼn belangstelling in entrepreneurskap gehad. Sy beskryf haarself as iemand wat altyd op die uitkyk is vir geleenthede.

Haar tesis is getiteld “Antecedents of social entrepreneurial intentions among Generation Y university students in South Africa”. Sy het faktore ondersoek wat ʼn invloed het op die intensie om ʼn besigheid te begin met die oog op sosiale waardeskepping deur die aanspreek van sosiale probleme en gemeenskapsontwikkeling.

Om haar primêre doel te bereik het sy ʼn skaal ontwikkel en geldig verklaar om sosiale entrepeneurskapsintensies te meet om empiriese navorsing in die veld te bevorder.

 Die skaal is ontwikkel deur die definisies van sosiale entrepreneurskap – soos dit in bestaande bronne vervat is – deeglik te analiseer. Verskillende statistiese analise-toetse is gebruik om, met behulp van ʼn steekproef van universiteitstudente in Suid-Afrika, die skaal geldig te verklaar.

 Die robuustheid van die skaal is vasgestel deur verder ook ʼn steekproef met ʼn groep Duitse studente te doen.

Die bevindinge van haar studie het daarop gedui dat Generasie Y-universiteitstudente in Suid-Afrika sosiale entrepreneurskapsintensies as ʼn voorganger vir sosiale entrepreneurskap sien. Sy het bevind dat sosiale entrepreneurskapsintensie sterk verband hou met die houding ten opsigte van sosiale entrepreneurskap, sosiale entrepreneuriese waargeneemde gedragsbeheer, waargeneemde entrepreneuriese haalbaarheid, en waargeneemde sosiale entrepreneuriese wenslikheid.

Hierdie resultate stel voor dat die begeerte om ʼn sosiale besigheid te begin intensioneel is. Met ander woorde, dit is ʼn persoon se uitkyk wat sy/haar se aandag op ʼn spesifieke onderwerp of pad rig om uiteindelik iets te behaal.

Die Chipeta-gesin is oorspronklik van Malawi waar Eleanor se loopbaan as ʼn bankklerk vir die Nasionale Bank van Malawi begin het. Deesdae geniet sy dit om navorsing te doen. Sy het reeds twee artikels in akademiese joernale gepubliseer en spog met ʼn samewerkingsooreenkoms met Dresden Universiteit in Duitsland.

Eleanor Chipeta ontvang haar doktorsgraad tydens die onlangse gradeplegtigheid.                 

 

Submitted on Mon, 05/13/2019 - 16:17