Prof Ankebe Kruger, voorligtingsielkundige by die Instituut vir Sielkunde en Welstand in die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie, het onlangs ’n navorsingsprojek onder personeellede in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe regoor al drie kampusse van die die Noordwes-Universiteit (NWU) geloods om deelnemers se persoonlikheid, hulle neiging om werkverwante ruminering te ervaar, en hulle werksvoorkeur te ondersoek.
“As gevolg van die impak van die koronavirus het universiteite regoor die wêreld die meeste van hulle aktiwiteite gestaak, en gevolglik is personeel en studente gedwing om vanaf ’n afstand of vanaf die huis te werk in ’n poging om die 2020- akademiese jaar te red. Afstandswerk verwys na werknemers wat buite ’n tradisionele kantooromgewing werk, en dit sluit daardie werknemers in wat nie gereeld by ’n spesifieke, fisiese ruimte moet rapporteer om hulle werk gedoen te kry nie. Die frekwensie waarop werknemers van ’n afstand af werk, kan wissel, met sommige wat so min as een keer per week buite die tradisionele kantooromgewing werk, terwyl ander 100% van hulle tyd van ’n afstand af werk,” verduidelik prof Kruger.
Sy het in haar studie gevind dat ’n groot korpus navorsing die voordele beklemtoon om van ’n afstand af te werk: individue is meer produktief en ervaar ’n beter werk/lewe-balans. Afstandswerk hou ook finansiële voordele vir die organisasie in, soos dat bedryfskoste verlaag word en mense minder afwesig is, en dat werknemers tyd en geld bespaar deurdat hulle nie na die kantoor toe moet reis nie. “Afstandswerk, as dit goed bestuur word, kan inderdaad voordelig wees ten opsigte van produktiwiteit sowel as die welstand van die werknemer. Terselfdertyd het vooruitgang ten opsigte van tegnologie die verwesenliking van hierdie voordele grootliks beïnvloed.”
Afstandswerk is egter nie sonder uitdagings nie. Die navorsing identifiseer uitdagings soos die potensiaal vir gevoelens van eensaamheid en afsondering, wat met depressie en angs verbind word, die vervaging van duidelike werksgrense, wat dit moeiliker maak om van jou werk af te skakel, ontwrigting van die gehalte, hoeveelheid en konsekwentheid van slaap, en die gebrek aan doeltreffende tydsbestuur. Prof Kruger verduidelik: “Talle werknemers moet werk terwyl hulle vir jong kinders en/of bejaarde ouers moet sorg, wat beteken dat hulle werk tuis onderbreek word, met hulle ‘kantore’ wat waarskynlik as klaskamer of versorgingsgerief gebruik word.”
’n Bykomende uitdaging ten opsigte van afstandswerk is dat nie alle werknemers in dieselfde omgewing ewe doeltreffend is nie. Prof Kruger se navorsing dui aan dat hoewel sommige werknemers hulleself en hulle prestasie kan bestuur wanneer hulle op hulle eie werk, ander werknemers dit moeilik kan vind wanneer hulle werk vir hulle minder duidelik is en daar minder toesig is. “Een van die sleutelaanwysers van prestasie in die werkplek is dus persoonlikheid. Persoonlikheid verklaar hoe ’n werknemer se gedrag is, en hoe hulle in die werkplek optree en voel, en kan help verklaar watter omgewings vir verskillende individue die produktiefste sal wees,” verduidelik sy.
Ten spyte van die klein getal personeellede wat aan die projek deelgeneem het, het die studie interessante resultate opgelewer.
Een-en-sestig persent van die deelnemers het aangedui dat die verpligte werk van die huis af gedurende die inperking hulle produktief, funksioneel en gelukkig laat voel het, terwyl 20% aangedui het dat hulle ietwat produktief en funksioneel gevoel het, maar nie so veel as wat hulle by die kantoor sou voel nie. Sestien persent het aangedui dat wanneer hulle van die huis af werk, verskeie faktore hulle vermoë beïnvloed het om funksioneel en produktief te wees, terwyl 3% van die deelnemers gevoelens van isolasie en ongelukkigheid ervaar het, en dat hulle nie funksioneel en produktief was nie. Op die vraag “Ná die Covid-19-pandemie wil ek …” het 66% van die deelnemers gereageer dat hulle ’n nuwe manier wil vind om werk van die huis af en werk van die kantoor af te kombineer, 23% wou steeds so veel as moontlik van die huis af werk, terwyl 11% aangedui het dat hulle in die kantoor terug wil wees soos voor die inperking.
Ten opsigte van die verwantskap tussen ’n individu se persoonlikheidsprofiel en hulle geneigdheid om werkverwante ruminering te ervaar, het die studie bevind dat dit gelyk het of mense met meer neurotiese tendense (individue wat tipies bevrees, hartseer, verleë, en wantrouig is en wat dit moeilik vind om stres te hanteer) meer affektiewe ruminering (’n toestand van moegheid en ontsteltenis wat persone beleef wanneer hulle aan werkverwante kwessies dink) ervaar, en dit moeiliker vind om af te skakel nadat hulle die werksomgewing verlaat het. Hierdie individue loop ook ’n gevaar van uitbranding, depressie en psigiatriese morbiditeit. Dit lyk of die meer ekstroverte (gesellige, opgeruimde, optimistiese) en instemmende (simpatieke, goedgeaarde, samewerkende en vergewensgesinde) individue minder tyd aan affektiewe ruminering bestee en ’n groter vermoë toon om af te skakel nadat hulle die werksomgewing verlaat het. Prof Kruger noem dat mense wat meer oop is vir nuwe ervarings skynbaar makliker ná werk afskakel. Individue met ’n persoonlikheid van hoë openheid is nuuskierig en bereid om nuwe idees te ondersoek. Hulle is ook geneig om nuwe idees te ontdek, onkonvensionele waardes te hê en gesag te bevraagteken. ’n Interessante bevinding was dat al die respondente ’n oorheersende persoonlikheidseienskap van pligsgetrouheid getoon het.
“Hierdie voorlopige resultate kan as basis gebruik word om ’n soortgelyke ondersoek in die groter NWU te doen en om uiteindelik die mensehulpbronpraktyk (MH) aan te raai om ’n hibriedwerksmodel te oorweeg om individuele personeellede se werksvoorkeure in ag te neem en terselfdertyd produktiwiteit hoog te hou,” sluit prof Kruger af.
Prof Ankebe Kruger