Die Noordwes-Universiteit (NWU) is trots om ’n instelling te wees wat deur waardes gedryf word en op sy strewe na uitnemendheid. Personeel en studente wat hierdie waardes uitleef en aan die voorpunt is om die NWU se kultuur en reputasie te bevorder en verbeter, het op 22 Mei tydens ’n prestigegeleentheid by die Three Rivers Lodge in Vereeniging hulle regmatige erkenning ontvang.
Dit is die tweede jaar wat die instelling sy erkenning vir media- en organisasieburgerskapsoptrede-toekennings (Media and Organisational Citizenship Behaviour (OCB) Recognition Awards) oorhandig het. Veertien belangrike beïnvloeders het in agt kategorieë erkenning ontvang vir hulle waardevolle bydraes as handelsmerkambassadeurs, intern sowel as ekstern. Elkeen van die ontvangers het ’n trofee en ’n kontantprys ontvang.
Die toekennings is die gevolg van nominasies deur personeel en voltydse studente op al drie die universiteit se kampusse van hulle eweknieë wat in die tradisionele en op digitale/sosiale media aangehaal is, asook van diegene wat konsekwent in 2023 die NWU se waardes bevorder en gedemonstreer het. ’n Paneel bestaande uit personeel en studente het as die beoordelaars van die nominasies opgetree.
Prof Bismark Tyobeka, visekanselier, sê die NWU se leiers is vasberade in hulle verbintenis om individue te eer en te vier wat die wese van die NWU uitbeeld en die fakkel van die pers burgers met trots dra. “’n Deel van ons missie is om ’n ekostelsel te benut wat individue bemagtig om hulleself deurlopend te vernuwe, nie net om die organisasie se sukses te bevorder nie, maar ook om hulle loopbaanpaaie te verbeter.”
“As die NWU implementeer ons deurlopend verskillende tussenkomste om die eiesoortige uitdagings vir ons werknemers en studente die hoof te bied. Hierdie inisiatiewe omvat ’n wye verskeidenheid strategieë, insluitend die optimalisering van personeelkoste, kultuurinisiatiewe, personeel- en leierskapsopleidingsprogramme, vroue in leierskap en hierdie toekenningseremonie, om ’n paar te noem.”
Die spesiale gasspreker by die geleentheid was die glans- en sosialemediapersoonlikeheid Thato Mokoena, ’n alumnus van die NWU. Sy het 1,1 miljoen volgelinge op TikTok, 212 000 volgelinge op Instagram en 103 000 volgelinge op X, voorheen bekend as Twitter. Sy het gepraat oor die gebruik van sosiale media om ’n positiewe handelsmerkambassadeurskap vir organisasies te skep.
En die wenners is …
Sosialemediapersoonlikheid (vir buitengewone bydraes tot die NWU se openbare reputasie op sosialemediaplatforms) – dr Thamie Ndlovu (personeel).
Tradisionelemediapersoonlikheid (vir buitengewone bydraes in die tradisionele media, insluitend koerante, televisie en radio) – prof Waldo Krugell (personeel) en Yikumba Andreas (student).
Buitengewone Mediadekking (vir ’n oplewing in mediablootstelling in ’n beperkte tydperk van sewe tot 14 dae) – prof Kedibone Phago (personeel).
Voorstander van Maatskaplike Verantwoordelikheid en Bewustheid (vir bydraes ten opsigte van verantwoordelikheid vir en bewustheid van maatskaplike regte, insluitend geslagsgebaseerde geweld, maatskaplike betrokkenheid, regte van gestremdes, middelmisbruik, geestesgesondheid en -bewustheid en maatskaplikewelstandsprojekte) – gedeel deur personeellede dr Corrie Rheeder en Juan-Ri Potgieter. Tshegofatso Tshehla was die studente-ontvanger.
NWU Silwervlerke-toekenning (’n diskresionêre toekenning aan personeel en studente wat die gees en karakter van die universiteit, sy kultuur en identiteit beliggaam) – personeellede prof Anné Verhoef en Thomas Erlank en student Khayakazi Madlala het die toekenning ontvang. Personeel en studente het vir die ontvangers van hierdie kategorie gestem.
Personeellede LeRoux Malan, Mothusiotsile Edwin Maditsi en Ujeet Maharaj, en student Atang Swartbooi het die Voorstander van Diversiteit en Transformasie-toekenning ontvang. Hierdie toekenning is vir buitengewone bydraes ten opsigte van onder andere transformasie- en diversiteitskonsepte en -inisiatiewe met betrekking tot ras, geslag, seksuele oriëntasie, genderidentiteit, kulturele perspektiewe en meertaligheid.
Marelize Santana (personeel) het die NWU 20-jaar-ambassadeurstoekenning ontvang. Hierdie toekenning gaan aan ’n personeellid wat sedert die samesmelting in 2004 by die NWU werk. Hulle moes hulle deurlopende verbintenis tot die verbetering en groei van die NWU regdeur hulle dienstermyn demonstreer het.
Visekanselierstoekenning (toegeken deur die visekanselier aan ’n lid van die bestuur wat deur hulle werk en betrokkenheid by die universiteit ’n buitengewone bydrae gemaak het om die NWU se strategie en waardes te verwesenlik) – hierdie jaar se ontvangers was Herman Steyn en Prof Mala Singh.
Die ontvangers van vanjaar se media- en organisasieburgerskapsoptrede-toekennings.