Pers dui uitnemendheid, herinnerings en, bo alles, hoop aan

Gedurende die maand Desember gaan die drie hoofhekke van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampusse in Mahikeng, Potchefstroom en Vanderbijlpark as simboliese gebaar van deursettingsvermoë tydens die Covid-19-pandemie pers verlig word.

Die ligte sal op Woensdag 1 Desember aangeskakel word en die projek sal die hele maand duur. Sedert die ingebruikneming van pers as die NWU se amptelike kleur in 2018, het pers die teken van uitnemendheid en eenheid geword vir elke personeellid, student en belanghebber wat enigeen van die NWU se kampusse betree.

Die NWU het verlede jaar ook sy hoofhekke verlig as ’n herinnering aan die opofferings wat gemaak is en die uitdagings wat oorkom is, en die aanpasbaarheid en uitnemendheid wat getoon is te midde van die verskeie uitdagings wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is.

Dit is veral hierdie jaar pynlik wanneer ons in ag neem dat studente, personeel en belanghebbers hulle lewens as gevolg van die pandemie verloor het en dat Suid-Afrika hom gereed maak om die vierde golf van die pandemie te trotseer. Dit ontdekking van die Omicron-variant en die onsekerhede wat daarmee gepaardgaan, veroorsaak verdere kwellings.

Ten spyte van die uitdagings dra die verligting van die hekke ’n boodskap van hoop oor, nie net in die lig van nuwe ontwikkelings in wetenskap in die stryd teen Covid-19 nie, maar ook die rol wat die NWU en sy personeel en studente gespeel het om die belangrikheid van inenting te bevorder, en uitreikingsinentingsterreine daargestel het waar duisende hulle inentings ontvang het.  

Die verligting vier ook die NWU se vermoë om tydens die vreemde tye van die pandemie aan te pas en te floreer. Dit bring hulde aan die universiteit se aanpasbaarheid wanneer uitdagings aangepak word, nuwe geleenthede om te leer, ontdek word, en ondersteuningstelsels geskep word.  

Prof Alida Herbst van die Skool vir Psigososiale Gesondheid het in 2020 voorgestel dat die hoofhekke pers verlig word as simboliese gebaar om die NWU se sorgsaamheidsetiek te demonstreer en om die verliese te erken en hartseer te midde van die pandemie uit te spreek.

Sy sê dat die pers verligting ook hoop en sorgsaamheid beklemtoon, soos dit vervat is in die betekenis van die kleur pers, wat adellikheid, mag, ambisie, kreatiwiteit, wysheid, waardigheid, toewyding en trots insluit.

Wanneer julle vanaf 1 Desember by die hoofhekke van enigeen van die drie kampusse van die NWU in Mahikeng, Potchefstroom en Vanderbijlpark verbystap, onthou om ’n oomblik stil te staan en na te dink, nie net oor die impak van die pandemie nie, maar ook oor die hoop wat met die oorwinning oor hierdie uitdagings gepaardgaan.

Submitted on Thu, 12/02/2021 - 09:24