Pers is die kleur van uitnemendheid, maar ook van herinnering

Gedurende die maand Desember gaan die drie hoofhekke van die Noordwes-Universiteit se kampusse in Mahikeng, Potchefstroom en Vanderbijlpark om ’n bepaalde rede pers verlig word.

Die kleur pers loop simbolies deur die are van elke personeellid, student en belanghebber van die Noordwes-Universiteit (NWU).

Sedert pers in 2018 as die NWU se amptelike kleur in gebruik geneem is, het dit die simbool van uitnemendheid geword vir elke persoon wat deur die hekke van enige van hierdie drie kampusse stap.

Hierdie Desember het pers  vir die NWU-familie nog ’n betekenis bygekry. Die hoofhekke van al drie kampusse sal vir die hele maand lank pers verlig word en die NWU in ’n nuwe jaar inlei. Hierdie simboliese gebaar, wat die NWU se sorgsaamheidsetiek demonstreer, is ’n herinnering aan die opofferings wat gemaak is en die uitdagings wat oorkom is, en die aanpasbaarheid en uitnemendheid wat getoon is ten spyte van die verskeie uitdagings wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is.

Business unusual het tot nuwe geleenthede gelei

Sake soos gewoonlik het vinnig in business unusual verander toe Covid-19 alle aspekte van ons lewens binnegedring het. Die pandemie het ’n geweldige impak op die NWU-gemeenskap gehad, en kampus- en navorsingsaktiwiteite asook gemeenskapsbetrokkenheid beïnvloed.

Internasionale samewerkings het beperk geraak tot dit wat voor ’n rekenaarskerm kon plaasvind.  Studente het die voorreg verloor om kontakklasse by te woon en aan die NWU se opwindende studentelewe deel te neem. Personeel het die ondersteuning van informele gesprekke met eweknieë oor ’n koppie koffie verloor. 

Saam met universiteite die wêreld oor moes die NWU sy kontakonderrig- en -leerbenadering na hoofsaaklik aanlyn leer aanpas, en op hierdie modaliteit van onderrig staatmaak en vinnig daarby aanpas.

Ten opsigte hiervan het die personeel en studente die uitdaging aanvaar en nuwe geleenthede ontdek om te leer. Hulle het saamgewerk om uitnemendheid te bereik, die ontwrigting van die akademiese jaar te minimaliseer en om struikelblok ná struikelblok suksesvol te oorbrug.

Onthou die persoonlike tol

Die pandemie het ook ’n geweldige persoonlike impak gehad, en sosiale en familie-interaksies en daaglikse aktiwiteite beïnvloed wat tragiese verliese vir talle van ons ingehou het.

Talle personeellede het hulle ervarings van hartseer en verlies gedeel terwyl die pandemie elke gevoel van normaliteit weggekalwe het.

Prof Alida Herbst van die Skool vir Psigososiale Gesondheid het voorgestel dat die hoofhekke in pers verlig word as simboliese gebaar om die NWU se sorgsaamheidsetiek te demonstreer en om die verliese te erken en hartseer te midde van die pandemie uit te spreek.

Sy sê dat die pers verligting ook hoop en sorgsaamheid beklemtoon, soos dit vervat is in die betekenis van die kleur pers, wat adellikheid, mag, ambisie, kreatiwiteit, wysheid, waardigheid, toewyding en trots insluit.

Die pers verligte hekke dra ’n boodskap van hoop uit. Ons het nie net verliese ervaar nie, maar ons het ook waardevolle lesse oor gemeenskappe, ons universiteit, ons studente en onsself geleer.

Die NWU-familie se aanpasbaarheid het toegeneem namate hulle die uitdagings met kreatiwiteit, waardigheid, toewyding, wysheid en trots aangepak het. Dit is waarom die pers verligting ook ’n teken is van die dankbaarheid van elke persoon wat ’n deurslaggewende rol in die sukses van die NWU gespeel het, en dit steeds speel.

As julle dus vanaf 1 Desember deur een van die hoofhekke van die drie kampusse van die NWU in Mahikeng, Potchefstroom en Vanderbijlpark stap, onthou dat ons onthou en feesvier.  

....

Mahikengkampus

....

Vanderbijlparkkampus

....

Potchefstroomkampus

Submitted on Tue, 12/01/2020 - 14:30