Penn State-kenner sluit by Optentia aan

Prof Sinfree Makoni gaan Maandag, 20 Mei 2019 sy prestigelesing as buitengewone professor by die Optentia-navorsingsfokusarea op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark  lewer.

Prof Makoni doseer in die afdeling Toegepaste Linguistiek en Program in Afrikastudies aan Penn State Universiteit in Pennsylvania, VSA.

Sy navorsingsbelange lê hoofsaaklik by kolonialistiese linguistiek, taalbeleid en -beplanning, sowel as ontologieë en epistomologie van taal en veroudering.

Sy lesing beloof ʼn blik op toegepaste linguistiek en veroudering vanuit die globale Suide en suidelike perspektiewe.

Prof Makoni verduidelik dat suidelike perspektiewe nie bloot verwys na die byvoeging van sommige perspektiewe vanuit die globale Suide, die insluiting van verskeie suidelike groepe wat meesal vergeet word, die insluiting van geografiese areas, of onderwerpe wat tydens die analise van globale noordelike toegepaste linguistiek ingesluit is nie.

“Wat ons hier aanspreek, in kontras, is ʼn veel meer verreikende stel uitdagings tot wat toegepaste linguistiek beteken, sê hy. “Dit gaan oor wat dit omarm, wat die sentrale kwellinge is, dit wat as voorlopers en historiese afkoms gesien word, en watter idees en tradisies dit dus dryf.”

Hy voeg by dat die innovasie en uitdagings wat na toegepaste linguistiek gebring moet word, verreikende implikasies vir veroudering inhou, wat verder strek as ʼn agenda wat vorige uitsluitings regstel. Dit verwys eerder na dieperliggende uitdagings wat betref sekere kernbeginsels van toegepaste linguistiek, sowel as nuwe rigtings vir teorieë en praktyke in die vakgebied.

Prof Makoni erken die aandadigheid van toegepaste linguistiek aan ʼn geskiedenis van kolonialisme en kapitalisme, en ʼn reeks kontemporêre ongelykhede. Hy voer aan dat ons toegepaste linguistiek op ʼn globale vlak op oop-einde wyses moet herskep om dit relevant tot veroudering te maak.

Sy lesing sal afsluit deur vir alternatiewe begrippe van taal en veroudering te argumenteer, sowel as vir die belangrikheid en bydrae wat die globale Suide tot die globale Noorde se vakkundigheid kan lewer.

Meer oor die kenner

Prof Sinfree Makoni het sy PhD in toegepaste linguistiek aan Edinburgh Universiteit verwerf. Hy het al grootskaals gepubliseer en sy mees onlangse publikasie is saam met Alastair Pennycook. Innovations and Challenges to Applied Linguistics from the Global South sal in Augustus 2019 deur Routledge Press uitgegee word.

 

Prof Sinfree Makoni

Submitted on Mon, 05/20/2019 - 08:26