Indien die verhoogde fiskale risiko’s sou materialiseer wat in die Begrotingstoespraak op 22 Februarie 2023 uiteengesit is, kan die Suid-Afrikaanse ekonomie later hierdie jaar goedskiks in ’n resessie verval, sê ’n paneel kundiges wat vandag tydens ’n Pitso van die NWU Besigheidskool die Begroting bespreek het. Vrae wat aan die paneel gevra is, is of die 2023 Begroting voldoende op die baie ongunstige internasionale en plaaslike ekonomiese omgewing gereageer het, of die Begrotingstrategie ’n fiskale teenwig vir huidige ekonomiese uitdagings kan genereer, en watter fiskale risiko’s die ekonomie en die land se staatsfinansies steeds in die gesig staar.
Oor die onderwerp of die begroting voldoende op Suid-Afrika se huidige ekonomiese uitdagings gereageer het, sê me Annabel Bishop, Investec se hoofekonoom, dat dit ’n beter-as-verwagte Begroting was, met ’n positiewe reaksie in die finansiële markte. Mnr Isaah Mhlanga, RMB se hoofekonoom, het saamgestem dat dit waardevol is om nou die besonderhede van Eskom se skuldprobleme te hê. Mnr Dawie Roodt, die Efficient Groep se hoofekonoom, was ietwat minder optimisties oor die Begroting, en het gesê dat hy twyfel of die voorspelde ekonomiese groei sal materialiseer. Hy sê dat die finansiële pakket vir Eskom, en die voorwaardes wat daaraan geheg word, as “agterdeur-privatisering” van die OSB beskou kan word.
Me Bishop sê hoewel die Tesourie nou oor Eskom toesig sal hou, koördinasie en implementering problematies kan wees. Die regering implementeer uit gewoonte talle lae van burokrasie om groot kwessies ta hanteer. Vanuit ’n bestuursperspektief is hierdie lae onnodig en kompliseer bloot die stelsel. Om na te laat om hierdie kwessie vinnig te hanteer, gaan ’n negatiewe impak op beleggings en ekonomiese groei hê. Toe hy gevra is of die verandering in die hantering van die Eskom-situasie onomkeerbaar is, het mnr Mhlanga gesê dat net die tyd sal leer. Ten opsigte van die nakom van die voorgeskrewe voorwaardes vir skuldverligting het Eskom in die verlede herhaaldelik nagelaat om daaraan te voldoen.
In die lig van die moontlikheid dat Suid-Afrika hierdie week op die “gryslys” geplaas gaan word, het die paneel die impak bespreek wat dit op die markte en ekonomiese groei sal hê. Terwyl mnr Mhlanga gevoel het dat plasing op die gryslys reeds verwag word en deur die markte in berekening gebring is, het mnr Roodt anders gedink. Hy het gemeen dat, prakties gesproke, dit tot meer verswarende vrae van nasionale en internasionale finansiële instellings sal lei, wat handel en kapitaalvloei negatief kan raak. Me Bishop het bygevoeg dat optrede om uiteindelik die verwagte gryslyssituasie te versag, vroeër eerder as later nodig sal wees. Sy hoop dat die skommeling van die Kabinet wat spoedig verwag word, ’n positiewe uitkoms in hierdie verband sal meebring.
Laastens, met betrekking tot die moontlike dreigende fiskale risiko’s vir die ekonomiese vooruitsig, het die paneellede gevoel dat die huidige elektrisiteitskrisis die potensiaal het om ’n resessie mee te bring, wat ernstige risiko’s vir belastinginkomste en staatskuld/BBP-verhoudings gaan veroorsaak. Mnr Roodt het afgesluit deur te sê dat die huidige risiko’s nie net fiskaal is nie, maar ook polities. Met ’n verkiesing wat in 2024 gaan plaasvind, bestaan die gevaar dat die fiskale beleid groter politieke oorwegings sal weerspieël.