Pad the Way-projek ten bate van die gemeenskap

Die GoAllOut-organisasie se studente-afdeling by die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n gemeenskapsdiensprojek, genaamd Pad the Way, geïnisieer.

Die doelwitte van die Pad the Way-projek is om ’n bewustheid te kweek vir die belangrikheid van persoonlike higiëne vir vroue, om menstruasie-armoede hok te slaan, en om regeringsleiers aan te moedig om dit vir alle skole en gemeenskappe verpligtend te maak om gratis sanitêre produkte aan meisies te verskaf.

Volgens Melokuhle Magagula, die voorsitter van die GoAllOut-organisasie se studente-afdeling, het hulle 100 000 individuele sanitêre doekies vir die projek ingesamel.

“Ons sal die sanitêre doekies aan die gemeenskap skenk, aangesien ons vroulike higiëne wil bevorder en ’n standpunt teen menstruasie-armoede wil inneem. Daarbenewens het Bidvest Steiner houers vir sanitêre doekies geskenk wat in winkelsentrums en skole in en rondom Mahikeng geplaas sal word, asook by die universiteit, sodat meisies tydens ’n noodgeval daarvan gebruik kan maak.”

Melokuhle sê hulle het ’n petisie opgestel om die regering aan te moedig om wetgewing uit te reik met die oog op die verskaffing van gratis sanitêre doekies aan meisies in skole.
Prof Sonia Swanepoel, adjunk-visekanselier vir gemeenskapsbetrokkenheid en Mahikengkampusbedrywighede, loof hierdie inisiatief deur die studente.

“Menstruasie-armoede is ’n wêreldwye kwessie wat meisies raak wat menstrueer, en wat nie toegang tot veilige, higiëniese menstruasieprodukte het nie, of wat as gevolg van stigma, of ’n gebrek aan menstruasie-opvoeding, of behoorlike higiënegeriewe nie hulle maandstondes met waardigheid kan bestuur nie.”

Sy sê vir talle meisies in Suid-Afrika en regoor Afrika beteken dit dat hulle tuis moet bly wanneer hulle menstrueer, aan negatiewe sosiale stigma blootgestel word, en die risiko van beduidende gesondheidskwessies loop – dit alles omdat hulle nie toegang tot veilige sanitêre produkte het nie.

“Die goeie nuus is dat daar regoor die vasteland en in die wêreld wonderlike aktiviste en voorstanders is wat besig is om ’n bewustheid te kweek oor menstruasie-armoede en hoe dit vroue en meisies in Afrika raak. Projekte soos hierdie dra by om die nood van jong vroue onder mense se aandag te bring,” sê prof Swanepoel.

Verskeie skole in en om Mahikeng gaan by hierdie projek baat vind. Hierdie skole sluit die Internasionale Skool van Suid-Afrika, Letsatsing Science Sekondêre Skool, Batswana Commercial Sekondêre Skool, Sol Plaatjie Sekondêre Skool, Mahikeng Sekondêre Skool en Golfview Sekondêre Skool in.

 

 

Die adjunk-visekanselier vir gemeenskapsbetrokkenheid en Mahikengkampusbedrywighede, prof Sonia Swanepoel, die uitvoerende burgemeester van die Mahikeng plaaslike munisipaliteit, rdl Tshepiso Mphehlo, Studentekampusraad-voorsitter Ella Mogashoa, en die direkteur vir studentelewe, mnr Jim Molautsi, vat hande met die donasie van sanitêre doekies aan minderbevoorregte meisies in die Mahikeng-gemeenskap.

 

 

Submitted on Fri, 04/28/2023 - 09:09