OVP 2017 – inspireer en bemagtig vroue-entrepreneurs

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Ondernemende Vroue-program (OVP) gaan van krag tot krag en meer as 50 vroue-entrepreneurs het al daarby gebaat en op hulle beurt ’n impak op die lewens van talle ander mense gemaak.

Hierdie is die vyfde jaar wat hierdie entrepreneurskap-gefokusde kortleerprogram aangebied word. Dit verteenwoordig ’n dinamiese samewerking tussen die bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (bhive EDC) op die Vanderbijlparkkampus van die NWU en Aequis Consulting Suid-Afrika.

Oor die verloop van die volgende agt maande gaan ’n groep van 16 vroue uit al die vlakke van die samelewing op ’n reis van entrepreneursondersoek en sakesukses vertrek. Die groep vroue sluit in jong eerste-entrepreneurs, vroue wat hulle werk bedank het om hulle drome te verwesenlik om ’n eienaar van ’n sakeonderneming te wees, tot vroue wat afgedank is en toe ’n onderneming begin het om hulle onderskeie gesinne te onderhou. Ten spyte van al hulle verskille het hierdie vroue ’n paar dinge gemeen – hulle is passievol, gedetermineerd en vasbeslote om hulle idees in werklikheid te omskep deur florerende sakeondernemings te bou en die lewe waarvan hulle droom, te leef.

Meer oor die OVP

Die doel van hierdie kortleerprogram is om vroulike beginner-entrepreneurs te help om hulle doelwitte te bereik en hulle besigheidsdrome ’n werklikheid te maak. Kortom: om vroulike entrepreneurs te help om uitdagings te oorkom en hulle besigheidsidees in relevante, volhoubare en inkomste-genererende ondernemings te ontwikkel.

Die agt maande lange program is daarop ingestel om besigheidsondersteuningsdienste te lewer aan vroue wat hulle eie sakeondernemings wil begin. Tydens die verloop van die program word deelnemers deur ’n proses gelei om idees te ondersoek, sakemodelle te ontwikkel, en daarna hulle ondernemings met vertroue en entrepreneurskundigheid aan te pak.

Sedert sy ontstaan in 2013 het die program met rasse skrede gegroei en het in die afgelope maande ook na Sasolburg en Pretoria uitgebrei. Die program verteenwoordig ’n NKR-vlak 5-sertifisering en vroue wat belangstel het net graad 12 en basiese rekenaarvaardighede nodig om aansoek te doen.

Die programkoördineerder is Leonie Greyling, ’n kundige in entrepreneurskapsontwikkeling, en saam met ’n span ervare aanbieders uit die akademie sowel as die sakesektor bied die program aan vroue die geleentheid om hulle drome vlerke te gee.

Die vroue wat aan die 2017-program deelneem, is:

Anele Maziko

Elaine van Eden

Lerato Phele

Puseletso Tebakang

Annah Ramphene

Jane Muller

Magdeline Masisi

Sasha-Lee Basson

Chanel van Niekerk

Lebohang Mashishi

Matlala Msimanga

Semakaleng Moeketsi

Dorcas Maleka

Lerato Mokubung

Mayuri Surujlal

Thakane Seiphetlho

 

 

Submitted on Tue, 04/11/2017 - 09:25