Dit is duidelik dat iets aan dissipline in skole gedoen moet word, maar om weer lyfstraf terug te bring, selfs op ’n beperkte skaal, is waarskynlik nie die antwoord nie.
Dit is een van die bevindings van ’n studie deur dr Noorullah Shaikhnag, senior lektor en adjunkdirekteur by die Skool vir Psigososiale Opvoeding van die Noordwes-Universiteit (NWU).
Die studie het groot verskille oor die onderwerp van lyfstraf onder leerders, onderwysers, ouers en skoolbestuursliggame uitgewys.
Dr Shaikhnag het bevind dat 61% van leerders en onderwysers skepties was oor die gebruik van lyfstraf as dissiplinêre maatreël, en vas geglo het dat om lyfstraf terug te bring, vordering by skole sal vertraag.
Aan die ander kant was 60% van die ouers en skoolbestuursliggame ten gunste van die herinstelling van lyfstraf.
Die steekproef vir die studie het uit 400 leerders en 100 onderwysers van 20 hoërskole in ’n onderwysstreek van Noordwes bestaan.
Impak van lyfstraf op onderrig en leer
Hoewel die teoretiese ondersoek getoon het dat die afskaf van lyfstraf die gebied van onderrig en leer aan bande lê, het die empiriese ondersoek nie so ’n verwantskap getoon nie.
Die data, as dit op die oog af aanvaar word, het getoon dat die afskaffing van lyfstraf wel die onderrig-leer-omgewing beïnvloed het. Die chi-kwadraat-toets wat op die data toegepas is, het egter aangedui dat geen beduidende verwantskap tussen die afskaffing van lyfstraf en die onderrig-leer-proses bestaan nie.
Die studie het verder bevind dat sedert lyfstraf afgeskaf is, onderwysers probeer het om alternatiewe metodes te vind om dissipline te handhaaf, insluitende ’n positiewe ingesteldheid en die bou van goeie verhoudings met leerders.
’n Studie, wat in 2017 deur dr Shaikhnag en twee ander vakkundiges uitgevoer is, het aangedui dat die afskaffing van lyfstraf in skole verreikende implikasies vir die onderwysersgroep ingehou het. Talle onderwysers kon nie toereikend die wangedrag van leerders hanteer nie en het die onderwysberoep verlaat.
Die skrywers hierbo het verder aangedui dat talle onderwysers ongelukkig was met die huidige swak dissipline in skole en gekla het dat min deur die regering gedoen word om dit hok te slaan. Die probleem word verder deur dwelms en alkohol by skole vererger, beweer Shaikhnag et al. (2017).
Onderwysers wat respek afdwing, vaar beter
Die huidige studie het ook gevind dat onderwysers wat respek in die klaskamer afdwing, eerder as dié wat op die leerders skree, goeie verhoudings met hulle het.
Hoe dit ook al sy, die studie het bevind dat talle respondente, insluitende onderwysers en ouers, glo dat die minimale gebruik van lyfstraf kan help om swak dissipline te verlaag.
Dr Noorullah Shaikhnag