Ottosdal se leerders se uitstekende leesvermoë beïndruk NWU-besoekers

Die belangrikheid van leesgeletterdheid het na vore gekom toe ’n internasionale leesgeletterdheidstudie bevind het dat slegs 20% van Suid-Afrikaanse graad 4-leerders die betekenis verstaan van wat hulle lees, ongeag die taal.

Aangesien dit ’n rede tot kommer is, het die NWU se span van Biblioteek en Inligtingsdienste (LIS) onlangs ’n positiewe ervaring van jong leerders se leesvermoë gehad. Die span het die voorreg gehad om op 20 September 2024 Letsosa Location in Ottosdal in Noordwes te besoek om Internasionale Geletterdheidsmaand en Erfenismaand saam met die Refentse-Katlego-jeugontwikkelingsentrum te vier.

Hierdie gebeurtenis was ’n wonderlike byeenkoms, met die wyksraadslid, verskeie nie-regeringsorganisasies, ouers, onderwysers, kerkleiers en ander sleutelbelanghebbers wat saamgespan het om die lewensnoodsaaklike rol van geletterdheid in die vorming van die toekoms te beklemtoon.

Die kern van die geleentheid was die missie om die belangrikheid van lees en geletterdheid te bevorder, veral ten opsigte van inheemse tale, ooreenkomstig die Internasionale Dekade van Inheemse Tale (IDIL 2022–2032) soos die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering dit aangekondig het.

Die LIS het boeke aan die gemeenskapsentrum geskenk en so waardevolle hulpbronne bygedra wat leerders – die leiers van die toekoms – met noodsaaklike geletterdheidsvaardighede sal bemagtig. Hierdie gebaar lewer ’n bydrae tot drie volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s). Hulle is SDG 4 (Gehalte-onderewys), SDG 10 (Verminderde ongelykhede) en SDG 17 (Vennootskappe vir die doelwitte).

Ter viering van Internasionale Geletterdheidsmaand was daar leesmarathons waar uitgesoekte leerders van plaaslike skole hulle talente kon vertoon. Hulle het beïndruk deur in Setswana, hulle huistaal, sowel as in Engels te lees. Hulle tweetaligheid en vlot leesvermoë het die sukses van die Refentse-Katlego-jeugontwikkelingsentrum in die bevordering en inskerping van ’n kultuur van leesgeletterdheid vanaf ’n jong ouderdom beklemtoon.

Die wyksraadslid het ook aan die leesmarathon deelgeneem en hardop vir die teenwoordiges voorgelees, en so ook een van die gemeenskap se ouer mense, om die jongmense aan te moedig om te lees en om die belangrikheid van geletterdheid te beklemtoon. 

’n Lewendige gumbootdansvertoning het energie na die byeenkoms gebring en gedien as herinnering aan Suid-Afrikaners se gedeelde erfenis en die lewendige tradisies wat mense saambind.

Die NWU LIS het regdeur die geleentheid sy verbintenis herbevestig om geletterdheid te bevorder en kultuur in ons gemeenskappe te vier sodat ons saam ’n blywende impak kan maak.

Die NWU se Biblioteek en Inligtingsdienste-span was beïndruk met die leerders van Ottosdal se leesvermoë.

Submitted on Mon, 12/09/2024 - 11:59