Die lente breek in September aan en ’n spesiale uitstalling van ongelooflike kuns ter ere van die nuwe seisoen versier die mure van die Ferdinand Postma Biblioteek op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU).
Kunswerke van blomme is oral te sien. Nie van die algemene of gewone tuinblomme nie, maar van Suid-Afrika se spesiaalste – en in sommige gevalle – seldsame en bedreigde spesies veldorgideë.
“Ons wou hierdie jaar by die biblioteek die lente ekstra spesiaal maak, en watter beter manier is daar as om nie net van die natuur se mooiste voorbeelde te vertoon nie, maar ook terselfdertyd ’n bekroonde versameling uit te stal?” sê Adri Jansen, bibliotekaris vir spesiale versamelings.
Die spesiale versameling van inheemse orgideë en hulle interaksie met insekte as bestuiwers kom uit die kwas van Daleen Roodt, bekroonde botaniese kunstenaar. Daleen het vroeër hierdie jaar by die Chelsea Blommeskou in Londen die Royal Horticultural Society (RHS) se goue medalje ontvang en haar werk is gekies vir die Best Artwork on Show asook vir die People’s Choice Award.
Ander toekennings sluit in dat sy ’n bronsmedalje (2010) en ’n silwermedalje (2013) by die Kirstenbosch Biennale ontvang het, asook ’n bronsmedalje by die 21ste Internasionale Orgideekonferensie in 2014.
Die NWU se lente-uitstalling, getiteld “Botanical art: a painting parallel from the past to the present”, word aangebied as ’n samewerking tussen die NWU Biblioteek se spesiale versamelings, die NWU Galery en die Kunsgeskiedenis-vakgroep. “Dit is ’n ongelooflike versameling en so verblydend om die reaksie van die studente en personeel te sien wanneer hulle dit ervaar,” sê Adri.
Die uitstalling bied ook ’n oorsig van die geskiedkundige botaniese kuns van Jakob en Johann Phillip Breyne in die 1600’s en sir John Herschelin in die 1800’s, tot by Daleen se werk van die 2000’s. “Ons is baie dankbaar vir die Brenthurst Biblioteek,” sê sy, en verwys na die privaat biblioteek wat deur wyle Harry Oppenheimer gebou is. “Hulle het foto’s van Breyne en Herschel se werk vir ons digitaal beskikbaar gestel.”
Kuns wat nie net ontroer nie, maar ook bewaar
Daleen is ’n selfopgeleide botaniese kunstenaar wat tans in Hillcrest in KwaZulu-Natal woon. Sy het haar kunsloopbaan in 2008 as vryskut- wetenskaplike illustreerder vir die Universiteit van Pretoria en die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteit Instituut (SANBI) begin, en het sedertdien haar loopbaan ontwikkel om in inheemse orgideë te spesialiseer.
Haar werk verskyn in die Grootbos Florilegium*, wat in die Hannarie Wenhold Botaniese Kunsgalery gehou word.
Daleen sê sy het ’n passie om buite te verf en tonele in situ (op die oorspronklike plek en in die natuurlike habitat) te skilder.
“Om kuns jou loopbaan te maak, kan baie uitdagings hê. Die natuurlike skoonheid wat in die proses ontdek word, die kennismaking met die ingewikkeldhede en harmonie van die natuur se komplekse interaksies, bring my egter by ’n plek van nadenke waar ek uiters bevoorreg voel dat ek dit kan vaslê en – in ’n sekere sin – die kennis van die plante kan bewaar.”
Sy glo dat haar werk ook ’n belangrike rol in die bewaring en die kweking van ’n bewustheid oor orgideë speel. “Botaniese kuns is ’n wetenskaplik korrekte kunsvorm, waar akkuraatheid noodsaaklik is. Maar ek probeer bowenal nie net die skoonheid daarvan oordra nie, maar ook die plante in hulle natuurlike omgewing leer ken, en om hierdie ervaring met die kyker te deel,” sê Daleen.
“Om my werk in ’n akademiese omgewing uit te stal, is ’n groot eer en voorreg, en ek is baie dankbaar vir die geleentheid. Vir die afgelope dekade of so was daar ’n ongelooflike oplewing in wat genoem word die “Nuwe Goue Era” van botaniese kuns. Ek is so dankbaar om deel te wees van hierdie beweging en om die erkenning te ervaar.”
Daleen het tydens haar besoek aan die NWU ook ’n spesiale lesing vir Kunsgeskiedenis-studente oor die kuns en wetenskap van botaniese skilderwerk gelewer.
Die spesiale uitstalling kan tot die einde van hierdie jaar gesien word en is regoor die biblioteek se perseel versprei.
Vir meer inligting oor die uitstalling, kontak vir Adri by adri.jansen@nwu.ac.za.
*The Grootbos Florilegium is ’n unieke versameling botaniese illustrasies deur ’n samewerking van plaaslike en internasionale kunstenaars. Die versameling beeld die skaars, bedreigde en charismatiese plante uit wat in die Grootbos Privaat Natuurreservaat en omliggende streke aangetref word.
Adri Jansen, Kgoitsemang Catherine Ramafoko (biblioteekintern) en Daleen Roodt by van Daleen se werk wat in die biblioteek uitgestal word. Die kuns agter hulle toon die Disa pulchra en die Watsonia lepeda saam met ’n blindevlieg (Philoliche aethiopica.
Daleen sê hierdie waterverf-illustrasie van die Eulophia horsfallii en Dissotis princeps saam met houtkapperbye is deel van ’n beperkte uitgawe van afdrukke.
Daleen Roodt het ’n passie vir die bewaring van die skoonheid van orgideë deur haar botaniese illustrasies.