Alle staats- en privaat organisasies moet die sistemiese risiko’s van ons komplekse wêreld hanteer. Sulke inherent komplekse kwessies is egter moeilik om te bestuur, selfs wanneer beduidende hulpbronne in die implementering van formele risikobestuursraamwerke en verwante prosesse benut word. Dit is daarom belangrik vir organisasieleiers om nuwe metodes te ondersoek om die bydrae van risikobestuursprosesse te bevorder wanneer hulle probeer om hulle doelwitte te bereik, sê prof Hermien Zaaiman van die Optentia navorsingseenheid van die Noordwes-Universiteit (NWU).
Die gedragsbenadering wat sy en haar span teenoor risikowerk volg, is gegrond op insigte uit gevestigde literatuur en 53 organisasiegebaseerde kwalitatiewe en kwantitatiewe studies wat risikokultuur as studiegebied het, en wat tussen 2015 en 2021 saam met hulle meestersgraad- en PhD-studente uitgevoer is.
Hierdie navorsing het gelei tot nuwe insigte oor hoe om organisatoriese risikobestuur te verbeter en praktykgebaseerde navorsingsbevindings te lewer wat die waarde van risikobestuursinisiatiewe aan organisasies kan bevorder.
“Ons MCom- en PhD-gegradueerdes in Toegepaste Risikobestuur werk in die staat- sowel as die privaat sektor, dus gee hulle studies hulle toegang tot werklike ervaring in risikobestuur,” sê prof Zaaiman.
Sy het byvoorbeeld in 2019 en 2020 1 897 reaksies van bestuurs- en niebestuurslede ontleed uit haar span se opnamegebaseerde studies in die Suid-Afrikaanse staat- en privaat sektor om prioriteitsgebiede te identifiseer sodat die insluiting van risiko in organisatoriese besluitneming verbeter kan word. Die respondente in die studie het saamgestem dat om bestuurders aanspreeklik te hou vir die insluiting van risiko by hulle besluite die belangrikste prioriteit is om die bydrae van risikobestuur vir organisatoriese sukses te verbeter. Die volgende vraag om te ondersoek, sal dan wees: “Hoe hou ’n mens ’n besluitnemer aanspreeklik vir ’n besluit wat met ’n onsekere toekomstige gebeurtenis verband hou?”.
Op grond van die studiebevindings sal sodanige ondersoek toegepaste navorsing op sekere prioriteitsgebiede vereis, naamlik hoe organisasieleiers risikowerk benader, hoe risiko deur die organisasie gekommunikeer word, plus – baie belangrik – hoe goed die konsepte van risiko en risikowerk deur die werknemers en ander belanghebbers in die organisasie omskryf en verstaan word.
Omvattende navorsing lewer bruikbare resultate
Die studies het veelvuldige sektore gedek, onder andere chemikalieë, finansiële dienste, versekering, bemarking, mynbou, telekommunikasie en hoër onderwys, asook ondernemings in staatsbesit en nasionale, provinsiale, en plaaslikeregeringsdepartemente.
“Om in staat te wees om toegepaste navorsing op sulke omvattende gebiede te doen, het ons gehelp om ’n algemeen toepasbare, praktykgerigte benadering tot daaglikse organisatoriese risikowerk te ontwikkel. Ons gebruik die term ‘risikowerk’ eerder as ‘risikobestuur’, soos dit deur die invloedryke navorser prof Michael Power van die Londense Skool vir Ekonomie in sy 2016-boek RiskWork, beskryf word,” verduidelik prof Zaaiman.
Sy sê prof Power is ’n voorstander daarvan dat organisasiebelanghebbers en navorsers wegbeweeg daarvan om te fokus op die ontleding van die oorsake en impak van onlangse rampspoedige risikogebeure om te probeer om organisatoriese risikobestuur te verbeter. Hy beveel aan dat meer aandag liewer geskenk moet word aan hoe belanghebbers risiko as ’n integrale deel van hulle daaglikse werk beskou.
Prof Zaaiman verduidelik dat ’n risikowerkbenadering alle navorsers in staat stel om te ondersoek hoe organisasiebelanghebbers besluite neem wat uiteindelik die entiteit se bereidwilligheid bepaal om risiko-insidente te vermy en te bestuur.
“Organisasieleiers moet deurlopend risikoverwante besluite in veranderende komplekse omgewings neem. Organisasiebelanghebbers moet dus die geleenthede en beperkings verstaan wat verband hou met die insluiting van risiko wanneer besluite geneem word.”
Daarbenewens volg die span se navorsing ’n gedragsbenadering om te verstaan hoe mense onseker gebeurtenisse beskou wanneer hulle besluite neem. “Ons bou dus ook op die groot korpus van kennis oor inherente menslike vooroordele en kortpaaie in denkprosesse, of heuristiek, om die gebruik van besluitnemingsinstrumente te ondersoek om sulke vooroordele te versag. Ons bestudeer byvoorbeeld die implementering van voorafontleding om senior besluitnemers te help om onsekerheid by hulle besluitnemingsprosesse in te sluit.
“In teenstelling met ’n nabetragting oor ’n inisiatief wat misluk het, stel ’n voorafontledingsoefening organisasieleiers in staat om die mislukking van ’n inisiatief te voorsien voordat dit plaasvind. Hierdie proses dien twee doelwitte, naamlik om te identifiseer wat moontlik verkeerd kan loop en om vir sulke negatiewe gebeurtenisse voor te berei voordat hulle besluit om met die projek voort te gaan. Hierdie opwindende en relevante navorsing stel ons in staat om organisasieleiers te adviseer oor die optimalisering van hulle risikoverwante pogings, en ons verwelkom enige navorsingsgerigte navrae,” sê prof Zaaiman.
Prof Hermien Zaaiman, medeprofessor in Toegepaste Risikobestuur by die Skool vir Ekonomiese Wetenskappe, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, kan via die Optentia-navorsingsprogram of the Sentrum vir Toegepaste Risikobestuur gekontak word.
Prof Hermien Zaaiman