Optentia stel twee nuwe kortkursusse bekend

Mentorskap voeg waarde toe op talle vlakke – vir mentees, mentors, asook studieleiers, en kan vir alle betrokke partye tot voordeel wees. Om hierdie verhouding te ontwikkel, word die partye gehelp om nuwe dinge aan te leer, hulle netwerke te bou en as professionele persone te groei.

Om sukses in die mentorskapverhouding te verseker, het die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) twee kortkursusse ontwikkel om mentors en mentees vir hulle rolle voor te berei:

  • Hoe om ’n suksesvolle mentor te wees
  • Hoe om ’n suksesvolle akademiese mentee te wees

Die doel van hierdie kursusse is om akademiese mentors en mentees te ontwikkel wat mentorskap waardeer. Dit stel hulle in staat om hulle bekwaamhede te ontwikkel en hulle doeltreffendheid uit te bou. Hierdie kortkursusse benut ’n aanlyn leerstelsel wat leerdergesentreerd is en selfgerigte leer moontlik maak.

Die bekendstelling het op 1 Augustus plaasgevind. Prof Dumi Moyo, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe, het die verwelkomingsrede gelewer.

 “Ons het die behoefte bespreek aan ’n mentorskapprogram wat kan help om ons jong akademici te lei en ons personeelontwikkeling te bespoedig, aangesien ons ’n jong fakulteit is met ongeveer 47 van ons personeellede wat steeds op die vlak van junior lektor en lektor is. Ons het besef dat ons maklik senior akademici kan aanwys om die jong en opkomende kundiges op te lei, maar nie alle senior akademici het ’n goeie begrip van wat ’n mentorskapprogram behels nie. Die rede hiervoor is dat hulle nie aan ’n program van so ’n aard blootgestel is nie, en nie alle junior akademici weet wat dit behels om ’n mentee te wees nie.”

Die mentorskapprogram wat deur die Optentia Navorsingseenheid ontwerp is, benader hierdie uitdaging deur die mentor en mentee afsonderlik te hanteer voordat hulle tot hierdie verhouding toetree. Die kursusse verskaf die nodige teoretiese en praktiese riglyne om ’n verrykende en vervullende mentorskapverhouding moontlik te maak.

’n Kundige bespreking, wat deur prof Lucius Botes, direkteur van navorsing by die fakulteit Bestuurs- en Ekonomiese Wetenskappe gefasiliteer is, het ook plaasgevind. Prof Malebo Ngoepe, ’n medeprofessor van die Departement Meganiese Ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad, het oor mentorskap op onverwagte plekke gepraat, en prof Norman Duncan, voormalige Adjunk-visekanselier: Akademies van die Universiteit van Pretoria, het oor mentorskap in ’n tydperk van vinnige en onvoorspelbare verandering gepraat. Prof Irma Eloff, professor in Opvoedkundige Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria, het ’n praatjie met die titel “To thine own self, be true” gelewer.

Prof Ian Rothmann, direkteur van die Optentia-navorsingseenheid aan die NWU, en dr Neil Barnard, postdoktorale navorsingsgenoot aan die NWU, het gedetailleerde insigte met betrekking tot die twee kortkursusse gelewer.

Prof Ian het die fakulteitslede bedank wat insette gelewer het, die kollegas met wie hulle onderhoude gevoer het, asook die span wat aan die ontwikkeling van die twee kursusse gewerk het. Hy het ook die belangrikheid beklemtoon van personeel wat die mentorskapkursus gedoen het voordat hulle hulle mentorskaprol aanvaar het – dit was wat hulle in die fakulteit aangemoedig het. Hy het bygevoeg dat hulle met die relevante persone gekonsulteer het en was optimisties dat hierdie kursus goed sal vaar. “Ek is al 40 jaar lank in die akademie, en dit is waarom ek meen dat ek ’n verskil kan maak aan hoe akademici voel.” Die kursus sal regoor al die fakulteite en universiteite beskikbaar wees.

Ten slotte het prof Mirna Nel, adjunkdekaan vir Navorsing en Innovasie in die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die NWU, haar opgewondenheid oor die kortkursusse uitgespreek. “Toe ons besluit het om die mentorskapkursus te ontwikkel, het ek geweet dat ek Optentia as gevolg van hulle kennis en kundigheid wil nader, en ons het geweet dat mentorskap nie net tot loopbaanadvies beperk moet wees nie, maar ook oor die mentee moet gaan.”

Vir meer inligting oor die kursusse, besoek asseblief  https://optentia.co.za/education.php Kyk ‘n kort video oor die twee kursusse

Submitted on Mon, 08/21/2023 - 07:55