Optentia is die beste POP

Positiewe organisasiesielkunde (POP) is ’n vinniggroeiende gebied, en die Noordwes-Universiteit (NWU) se Optentia-navorsingsfokusarea is onder die top-10 in die wêreld vir publikasies en sitate op hierdie gebied.

Wat meer is, die topdrie POP-navorsers het bande met Optentia, wat sedert 2002 vir “Enabling Optimal Expression of Individual, Social and Institutional Potential” staan.

Optentia se top-10-status in die wêreld van POP, wat op die positiewe aspekte van optimale funksionering by die werk fokus, is in ’n onlangse artikel, getiteld “Positive Organizational Psychology: A Bibliometric Review and Science Mapping Analysis” bevestig, en in die International Journal of Environmental Research and Public Health gepubliseer.

Die artikel doen verslag oor die eerste bibliometriese ontleding wat wêreldwyd op publikasies en sitate op die gebied van POP gedoen is. Hierdie studie behels die ontleding van 7 181 artikels oor POP wat op die Web of Science Core Collection (WoSCC) gepubliseer is. Werk wat ’n bydrae tot POP lewer, het van 123 lande op vyf vastelande gekom, met 60 lande wat elkeen meer as 10 werke bygedra het. Die 10 lande wat die meeste publikasies bygedra het, was die Verenigde State, Kanada, China, Nederland Spanje, Suid-Afrika, die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Italië en Australië.

’n Internasionale impak

Hoewel Optentia ’n spesifieke belangstelling het in kennis vir die optimale uitdrukking van individuele, samelewings- en institusionele potensiaal in die konteks van Afrika, is hulle toenemend ook in die wêreldwye navorsingsgemeenskap aktief.   

“Ons het ’n aantal jong studente wat onlangs hulle PhD’s voltooi het en tans geregistreer is, en wat in die toekoms ’n verskil gaan maak,” sê prof Ian Rothmann, direkteur van Optentia.

“Ek dink ons huidige programme bied opwindende geleenthede om nie net tot ontwikkeling in Afrika by te dra nie, maar ook om met ons multidissiplinêre benadering ’n internasionale impak te maak.”

Hy sê dat Optentia insette van veelvuldige dissiplines soos die ekonomie, opvoedingswetenskappe, indiensnemingsverhoudings, mensehulpbronnebestuur, inligtingstegnologie, filosofie, risikobestuur, sosiale antropologie, maatskaplike werk, sosiologie en natuurlik sielkunde (werks- en organisasiesielkunde, opvoedkundige sielkunde, voorligtingsielkunde en kliniese sielkunde) inkorporeer en benut.

Optentia is besig om die wyse te verander waarop ons na die wêreld en na werk kyk, en daardie toekoms lyk positief.

Ian-Rothmann
Prof Ian Rothmann

Karina Mostert   Marius Stander

Navorsers prof Karina Mostert van die Bestuurskubernetika navorsingsentiteit en prof Marius Stander van Optentia word aan die grootste gedeelte van die Suid-Afrikaanse resultate verbind. Die NWU was die enigste instelling in Suid-Afrika en Afrika wat in die bibliometriese ontleding verskyn het. Prof Mostert is ook in die bibliometriese ontleding vermeld.

Submitted on Tue, 06/15/2021 - 12:58