Openbare lesing: ''Land, Land Reform and (Re)membering our Relationship with land''

deur Vukosi Mathale

Die Bevolking en Gesondheid-navorsingsentiteit by die Noordwes-Universiteit (NWU) was op Woensdag 28 Augustus 2024 die gasheer vir ’n openbare lesing wat deur dr Jackson Sebola-Samanyanga, senior lektor in die Departement van Stads- en Streeksbeplanning aan die Universiteit van Pretoria, aangebied is. Die geleentheid is op die Mahikengkampus gehou en het ’n uiteenlopende gehoor gelok. Die doel was om die kwessie van grond aan te raak, wat steeds met soveel passie in Suid-Afrika bespreek word.

Die lesing, getiteld “Land, Land Reform and (Re)membering our Relationship with land”, het ’n platform vir die bespreking van die sensitiewe vraag oor grond verskaf. Noordwes se Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, wat deur die direkteur vir ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur (SPLUM), Tukisetso Kopela, gelei is, en die adjunkdirekteur vir Monitering en spesialis in Provinsiale Bedryfsondersteuning, Doni Mosimanekgosi, het vanuit die perspektief van die regering by die besprekings aangesluit.

Prof Mirna Nel, die adjunkdekaan vir Navorsing en Innovasie in die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die NWU, het in haar openingstoespraak die grondslag vir die insiggewende gesprekke gelê.

Toe hy die spreker bekend gestel het, het die navorsingsdirekteur vir Bevolking en Gesondheid, professor Martin Palamuleni, ook van die Fakulteit Geesteswetenskappe, gesê “Universiteite moet deel wees van diegene wat oor die grondkwessie gesels, aangesien hulle die mense is wat aan die spits van landelike ontwikkeling in regerings- en andere entiteite staan.”  

Dr Sebola-Samanyanga het tydens sy toespraak beklemtoon dat grondgebruik ’n verpligte aktiwiteit moet wees sodat elke huishouding dit kan hanteer soos dit in die verlede gedoen is. Tuine vir groente moet in agterplase aangelê word, koeie moet vir melk en bokke vir vleis aangehou word. “As ons ons verhouding met die grond onthou, sal dit ons help om weer beheer van ons voedselstelsels te neem,” het hy bygevoeg.

Dr Molepo het afgesluit deur te beklemtoon dat die grondkwessie in Suid-Afrika nie bloot oor hektaar en oordrag of eise gaan nie.  Dit gaan ook nie net oor ’n geïdealiseerde verlede nie, maar oor die terugwen en herstrukturering van ons kennis en geskiedenis om ons te bemagtig om die huidige en die toekomstige uitdagings die hoof te bied.

Grondhervorming en ons verhouding met die grond

Die lesing het ook die kwessie gedek van migrasie na groener weivelde wanneer mense aftree of hulle werk verloor. Families gaan na hulle plattelandse dorpies terug, en as hulle nie daar grond besit nie, kan hulle nie oorleef nie, aangesien hulle geen grond het om te bewerk nie.

Dr Sebola-Samanyanga het geïllustreer hoe ons grootouers se ouers oorleef het net deur die grond te bewerk. Hy het beklemtoon dat alle huishoudings hulleself behoort te onderhou deur hoenders vir eiers en agtertuine vir groente te hê, en nie net daarop staatmaak om alles te moet koop nie.

Prof Mokgadi Molope het die bedankings gedoen en gesê dat hy dit waardeer dat die Fakulteit Geesteswetenskappe platforms skep vir akademici en navorsers om met die publiek en kundiges te skakel oor maniere waarop kwessies wat ons ervaar, hanteer kan word. “Die openbare lesing het ons aangemoedig om oor ons verhouding met die grond na te dink. Die fakulteit skep deur openbare lesings soos hierdie ’n platform waar ons ons missie kan najaag om ruimte vir lewendige debatte te skep oor maniere waarop ons die uitdagings van die 21ste eeu kan aanpak.”

Die direkteur van Sosiale Wetenskappe, dr Andre Goodrich, het in sy slotopmerkings universiteite uitgedaag om werklik te onthou en deur meer gemeenskapsbetrokkenheidsinisiatiewe daardie onthouwerk te doen.

Margaret Munnerlyn Mitchell, ’n Amerikaanse skrywer en joernalis, het eenkeer gesê “Grond is die enigste ding in die wêreld wat iets beteken, want dit is die enigste ding in die wêreld wat blywend is. Dit is die enigste ding wat die moeite werd is om voor te werk, of te veg.”

Land Reform Public Lecture

Voor, van links na regs: Prof Mirna Nel, dr Jackson Sebola-Samanyanga en prof Mokgadi Molope.Agter, van links na regs: Dr Andre Goodrich, Doni Mosimanekgosi, dr Buti Kumpi, een van die studente wat teenwoordig was, en Tukisetso Kopela.

Submitted on Tue, 09/03/2024 - 11:21