Op Wêreld Hipertensiedag vra navorsers vir ’n bewustheid en voorkoming van hipertensie

Ter erkenning van Wêreld Hipertensiedag het die NWU se Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART) ’n bloeddrukmoniteringsgeleentheid as deel van die Mei Metingsmaand-inisiatief gereël. Die doel van die geleentheid was om ’n bewustheid oor hipertensie, of hoë bloeddruk, te kweek en lig te werp op die belangrikheid van vroeë opsporing en voorkoming. Voorste navorsers van HART het waardevolle insigte gedeel oor hipertensie, die risikofaktore daarvan en doeltreffende maatreëls om hoë bloeddruk te verminder of te voorkom.

Prof Carina Mels, direkteur van die NWU se Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART), het die beduidendheid beklemtoon van inisiatiewe soos die Mei Metingsmaand om ’n bewustheid van hoë bloeddruk te skep. Prof Mels het gesê: “HART is baie trots daarop om deel van die Mei Metingsmaand-inisiatief te wees. Hierdie inisiatief is deur die Internasionale Vereniging van Hipertensie geloods om ’n bewustheid van hoë bloeddruk te skep. Ons praat gewoonlik van die 50-50-50-reël. Slegs 50% van mense met hipertensie is bewus dat hulle daaraan ly. Dit is waarom bewustheidsveldtogte soos hierdie so belangrik is.” Sy het verder verduidelik dat van diegene wat van hulle hoë bloeddruk bewus is, slegs 50% behoorlike behandeling ontvang, en slegs 50% van diegene wat behandeling ontvang se bloeddruk is onder beheer. Prof Mels het die noodsaaklike rol van bewustheid beklemtoon om individue aan te moedig om hulle bloeddruk te moniteer en vas te stel of hulle bloeddruk hoog is en behandeling daarvoor te kry.

Prof Lebo Gafane-Matemane, ’n gerespekteerde lid van HART, het uitgebrei op die verskillende risikofaktore wat met hipertensie verband hou en sy het waardevolle insigte verskaf. “Daar is twee tipes risikofaktore vir die ontwikkeling van hipertensie. Die eerste tipe is nieveranderbare of onbeheerbare risikofaktore, en dit is die dinge wat jy nie kan verander nie. Die tweede tipe is veranderbare of beheerbare risikofaktore, en dit is die dinge waaraan jy iets kan doen,” het sy verduidelik. Prof Gafane-Matemane het gepraat van ’n genetiese predisposisie, ’n gevorderde leeftyd en geslagsverskille as voorbeelde van nieveranderbare risikofaktore. Aan die ander kant het sy beklemtoon hoe belangrik dit is dat veranderbare risikofaktore soos ongesonde eetgewoontes, rook, oormatige alkoholverbruik, ’n sittende leefstyl en ander ongesonde gedrag hanteer moet word. Prof Gafane-Matemane het beklemtoon dat die akkumulering van risikofaktore die waarskynlikheid vir die ontwikkeling van hipertensie direk verhoog.

Om mense verder aan te moedig om die risiko van hoë bloeddruk te verlaag, het prof Wayne Smith, nog ’n gerekende lid van HART, waardevolle strategieë gedeel. Prof Smith het verskeie belangrike maatreëls uitgelig en gesê: “’n Mens kan eerstens jou liggaamsgewig verlaag, want dit hou direk met jou bloeddruk verband. Tweedens is dit belangrik om gereeld oefening te doen – mik vir ongeveer 30 minute per dag. Derdens, kweek gesonde eetgewoontes aan, insluitende die inname van baie vrugte en groente wat berei word om hulle voedingswaarde te behou, soos deur dit te stoom, of dit rou te eet.” Prof Smith het die positiewe impak beklemtoon van beet om jou bloeddruk te verlaag. Hy het verder aangeraai dat ’n mens jou soutinname moet verlaag, nie net van tafelsout nie, maar ook van verskuilde bronne soos verwerkte voedsels en graankosse. Hy het beklemtoon dat die inname van vette, suikers, alkohol en kafeïen verminder moet word, en dat ’n mens moet ophou rook. Prof Smith het afgesluit deur die belangrikheid van stresvermindering en ontspanningstegnieke te onderstreep, aangesien chroniese stres bloeddruk direk beïnvloed.

Die gesamentlike kundigheid van professore Carina Mels, Lebo Gafane-Matemane en Wayne Smith verskaf waardevolle insigte rakende hipertensie, die risikofaktore daarvan en praktiese stappe wat individue kan doen om die risiko van hoë bloeddruk te verminder. Hulle gedeelde kennis en leiding beklemtoon die belangrikheid van vroeë opsporing, leefstylaanpassings en die aanleer van gesonde gewoontes om optimale bloeddrukvlakke te handhaaf en die kanse te verklein om hipertensie te ontwikkel.

Op Wêreld Hipertensiedag en in die toekoms, kom ons aanvaar hierdie aanbevelings en bou hulle in ons daaglikse lewens in om ’n positiewe impak op ons bloeddruk te hê en so die risiko van hipertensie te verlaag.

Kliek hier om die video te kyk.

...

Die HART span was vol glimlagte tydens Wêreld Hipertensiedag.

Submitted on Thu, 05/25/2023 - 14:25